30 jaar se snotneusies en herinneringe

Presies 30 jaar gelede het ’n klein en beskeie kleuterskool genaamd Haasdas Educare Centre sy deure vir die publiek geopen, en vandag staan hierdie kleuterskool trots bekend as een van die bekendste en mees gerespekteerde opvoedkundige sentrums in di


Presies 30 jaar gelede het ’n klein en beskeie kleuterskool genaamd Haasdas Educare Centre sy deure vir die publiek geopen, en vandag staan hierdie kleuterskool trots bekend as een van die bekendste en mees gerespekteerde opvoedkundige sentrums in die omgewing, oorgehaal om dié mylpaal te vier.

Haasdas Dagsorg, soos dit destyds geheet het, is in 1990 met ’n handjievol leerders begin met die hoop om ’n veilige vesting deur die dag vir die jongelinge van Worcester te wees.

Eldé Wilskut, die skoolhoof en sentrumbestuurder, het in 1991 by die dagsorg aangesluit en is al die afgelope 18 jaar die sentrumbestuurder.

“Dit is absoluut ’n passie vir my. Die kinders noem my ‘mamma’ en ek en my personeel is as ’t ware dié kleintjies se mamma deur die dag,” sê Wilskut.

Hoewel die skool tot bykans 90 leerlinge kan huisves, is net meer as 30 leerders tans in die sentrum.

“Aan die begin was dit kommerwekkend, maar dit is ’n tendens reg oor Worcester. Sulke klein groepies is eintlik ideaal om gehalteonderrig met passie en oorgawe aan te bied,” verduidelik sy.

Vanjaar gaan die sentrum vir die viering van die drie-dekade-mylpaal ’n dankseggingsgeleentheid in April aanbied, gevolg deur ’n reünie asook ’n pretdag of -aand waar die nuwe Mnr. en Mej. Haasdas aangewys sal word.

“Ons is baie opgewonde oor die feesprogram wat ons tans besig is om te ontwikkel en uiteen te sit,” verduidelik Wilskut.

“Ons wil ouers, leerders en selfs oudleerders wat intussen moontlik self ouers geword het, by die pret betrek,” sê sy.

Wilskut en haar personeel, wat uit nog vier opvoeders bestaan, ontvang hulp van die CWP-diensprogram (Community Work Programme) asook studente van Boland Kollege wat uithelp en hul prakties doen.

Haasdas Educare Centre het sy laaste staatsubsidie in 2018 ontvang en sal ná opknappings- en skaafwerk weer aansoek vir finansiering vir die volgende termyn doen. “Ons is maar afhanklik van ons ouers en ons wonderlike weldoeners wat ook so baie vir die skool inploeg. Niemand word ’n juffrou of hoof by ’n kleuterskool om ryk te word nie – dit gaan alles oor die kinders en hul onderrig,” voeg sy by.

Die leersentrum fokus op voorskoolse ontwikkeling en om gebalanseerde en respekvolle kinders gereed te kry om met graad R of RR te begin.

“As mens bokse pak, dan staan daar geskryf: ‘Breekbaar – hanteer versigtig,’ en dit is wat ons probeer om met elke kind in die sentrum te doen,” sê Wilskut.

“Ons wil voorskoolse onderrig van hoë gehalte gee en omgee vir elke kind wat deur ons hekke stap,” sê sy.

Haasdas Educare Centre is elke week van Maandag tot Vrydag oop en werk met kinders van nege maande tot vyf jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.