33 beboet, een toegesluit in Ashton

Die Ashton-polisie meen dat inwoners van hierdie dorp in die Langeberg hul nie baie steur aan die maatreëls wat gepaardgaan met die inperking nie.


Die Ashton-polisie meen dat inwoners van hierdie dorp in die Langeberg hul nie baie steur aan die maatreëls wat gepaardgaan met die inperking nie.

AO Sylvester Joseph van die Ashton-polisie het aan Standard gesê dat hulle hul hande vol het met mense wat doodeenvoudig net nie die regulasies ernstig opneem nie.

“Ons moes 33 mense beboet aangesien hulle op straat was en die wet nie gehoorsaam het nie. Ons het ook een persoon tans in aanhouding wat Maandag in die streekhof sal verskyn aangesien dié persoon ook die wet ernstig oortree het.”

Joseph voeg by dat hy en sy span gereeld in die dorp ry en met die luidspreker mense inlig en vra om huis toe te gaan of uit die strate te bly.

“Ons probeer regtig ons deel doen om mense in te lig en te ondersteun ook waar ons kan. Ons ry ure rond op patrollies en sien dit ewe veel as ’n inligtingsessie as ’n aksie waar ons net wil toesluit en boetes skryf,” sê hy.

Die Ashton-polisie is ook dankbaar vir die inperking aangesien hul in die eerste week ’n duidelike verskil in hul misdaadsyfers kon sien. “Misdaad het vreeslik afgeneem en daaroor is ons baie opgewonde. Dit is ’n goeie ding. Ons vra dat mense die wet sal gehoorsaam en nie uit hul huise sal beweeg nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.