Sowat 80 kinders van Victoriapark het Saterdag 22 Februarie nuwe skooluitrustings ontvang.
Die skenking is in samewerking met die wykskomiteelede Projects with Bikers en Worcester Marching Band gedoen. Die kinders is met die gedreun van motorfietse en die klanke van die orkes vermaak.
“Vandag gaan nie oor waarvandaan die skenking kom en ook nie wie dit uitdeel nie. Dit gaan vir ons oor die kinders wat nuwe skoolskoene, rugsakke en baadjies ontvang,” het die DA-raadslid Joffery Jack gesê.
Die 80 kinders wat klere gekry het, is behoeftige kinders. Al die kinders wat Saterdag by die Victoriapark-parkie was, het met lekkers, aartappelskyfies en ’n glimlag huis toe gegaan.
“Projects with Bikers is altyd betrokke en ons weet daar is altyd ’n behoefte in die gemeenskap. Toe die raadslid ons nader om te kom help uitdeel, was dit vir ons baie belangrik om deel te wees hiervan. Ons probeer altyd ’n verskil maak, al is dit hoe klein,” het Denver Daniels van Projects with Bikers, gesê.
“Ons het verskeie projekte en take wat ons graag in 2020 wil aanpak. Ons wil die volgende paar weke graag skryfbehoeftes oorhandig aan kinders wat dit nodig het. Enigeen is welkom om betrokke te raak en mense kan ons gerus op ons Facebook-blad kontak.”