Enrico Claassen
Die saak waarin ’n 65-jarige onderwyser van ’n Worcesterse hoërskool aangekla word van die seksuele aanranding van ‘n 16-jarige leerder, is by die Kaapse Wynland Onderwys-distrikskantoor en Raad vir Arbeidsverhoudinge aangemeld.
So sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), aan Standard Breederivier Gazette.
Volgens Hammond het die opvoeder op 31 Oktober uit die diens van die WKOD getree na hy die ouderdom van 65-jaar bereik het.
“Ons gaan voort met ons ondersoek en het die nodige psigososiale ondersteuningspanne ingelig om die leerder te ondersteun.
“Dit is ’n ernstige bewering en word deur die distrik aangespreek.
“Ons is nie vertroud met die besonderhede van sy inhegtenisneming nie aangesien hy nie in ons diens is nie, maar sal met die polisie saamwerk in terme van hul ondersoek.”
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het vroeër aan Standard Breederivier Gazette gesê dat die voorval op 21 Oktober omstreeks 10:40 by die betrokke skool plaasgevind het.
Volgens haar is die voorval op 22 Oktober by die polisie aangemeld.
Die saak is tot 10 Desember uitgestel.
Die beskuldigde is tans uit op borgtog.
* Intussen het die Parlement se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys alarm gemaak oor die groeiende aantal seksuele wangedragsake waarby opvoeders en leerders betrokke is, en vra vir dringende en gekoördineerde optrede om kinders in skole te beskerm.
Komiteelede het Dinsdag (4 November) gehoor dat tussen die 2018/19- en 2024/25-boekjare die Onderwys Arbeidsverhoudingeraad (RAO) 469 gevalle van seksuele wangedrag deur opvoeders aangeteken het.
LEES OOK: A total of 176 teachers found guilty of sexual misconduct, Parliament told
Van die 211 dissiplinêre toekennings wat tussen 2021/22 en 2025/26 uitgereik is, is 176 onderwysers skuldig bevind en 35 onskuldig.





