Worcester-Noord Primêre Skool (WNPS) se adjunkhoof en natuurwetenskap-onderwyser, Gerhard Booysen, tree na 35 jaar by dié skool af. Op Vrydag 30 Junie, gaan hy vir oulaas sy klas se deur agter hom toetrek, maar rus gaan hy beslis nie.
Booysen sê hy gaan sommer nog baie besig bly, want vir stilsit sien hy nie kans nie.
Hy was die afgelope 35 jaar betrokke by Noordjies. “Ek het die skool in groeifases beleef en self saam met die skool gegroei,” vertel hy.
Booysen het as jong spesialiseringsonderwyser in 1982 by WNPS begin en met kinders met gestremdhede gewerk. In ’n baie kort rukkie het hy sy merk gemaak en ontvang in 1983 en weer in 1985 merietetoekennings van die departement van onderwys. So word hy op die jong ouderdom van 32 as departementshoof aangestel. Hy is sedert 1997 die adjunkhoof van die skool.
Hy is getroud met Nelia en hulle het drie kinders, Attél, G.D. en Lourens, wat almal leerders was by WNPS.
Almal by die skool sal dié onderwyser onthou vir sy doelgerigtheid en lekker sin vir humor. Hy het diep spore by die skool getrap en baie mense se lewens aangeraak.
Die hoogtepunt van sy loopbaan beskryf hy as volg: “My bevordering het baie vroeg in my lewe gekom en dit was ’n groot hoogtepunt. Dit was ook lekker om deel te wees van die skool se ontwikkeling. Daar is baie ouers wat by my op die skoolbanke gesit het en nou sit hul kinders hier.”
Oor sy aftrede sê hy dit is die volgende fase van sy lewe en hy doen dit terwyl hy nog gesond is.
“Ek teel met eksotiese Australiaanse vinke en ry baie bergfiets. Ek hou daarvan om te toer, veral in Afrika. My seun is in Mosambiek en ek gaan lekker daar kuier.
“Ek beplan om ’n besigheid te begin waar ons huise herstel en verf. Ek gaan ook my vrou help met haar besigheid.”
Sy advies aan onderwysers? “Pas aan by jou omstandighede. Die lewe verander rondom jou. In die onderwys is niks elke dag dieselfde nie.”


