Agrico (Edms) Bpk is die trotse invoerder en verspreider van die Azud Helix outomatiese filtreersisteem wat in Spanje vervaardig word. Die filtreersisteem is toegerus met inlyn selfreinigende filters en plaaslik vervaardigde Agrico-spoelkrane. Agrico vervaardig die filterbanke met maklik installeerbare gegalvaniseerde en poli-uretaanbedekte spruitstukke (manifolds) met ’n ontwerp-vloeisnelheid van tot en met 600 m³/h.
Die Azud Helix-filtersisteem skep ’n sentrifugale heliks-effek wanneer die water die filter ingaan, wat veroorsaak dat die groter partikels na buite en weg van die filterskywe gespin word. Dit hou die filterskywe vir langer skoon en dit beteken langer intervalle tussen terugspoelsiklusse. Individuele filters word teruggespoel terwyl die res van die filters aanhou met filtreer.
Wanneer teruggespoel word, word skoon water van die teenoorgestelde kant af gebruik om die filterskywe oop te druk en van mekaar te skei, wat dan die onsuiwerhede baie effektief uit die filter spoel. Die vuil water word nou deur die terugspoelkraan en die uitlaatspruitstuk na buite gespoel. As die terugspoelsiklus stop word die filterskywe weer vasgedruk en normale filtrering vind plaas. Die filterbank is reeds aanmekaargesit wat vervoer en installering baie vergemaklik.
Agrico het intussen die beplande verkoop van sy meganisasie-afdeling, insluitend sy John Deere- en ander invoeragentskappe, aangekondig. Afgri Equipment (Edms) Bpk het gekontrakteer om die grootste deel van die besigheid te koop, onderhewig aan regulatoriese goedkeurings. Agrico is van voorneme om ook die res van die afdeling te verkoop.
Afgri Equipment, ’n leier in diverse landboudienste en toerusting vir presisieboerdery, sal sy taknetwerk uitbrei met die transaksie. Hy sal kontinuïteit van diens verseker en sy bestaande finansiële oplossings asook insette bied aan klante.
Agrico sal sy fokus op sy waterverwante sake en eie-vervaardigde produkte verskerp. Hy sal sy teenwoordigheid in sy bedieningsarea handhaaf en uitbrei in Afrika. Agrico behou meer as 800 werknemers en sal voortgaan om te belê in sy SA vervaardigings- en verspreidingsinfrastruktuur. Alfred Andrag, operasionele en bemarkingsdirekteur, het gesê verskeie geleenthede is geïdentifiseer waaraan hulle werk.