De Tuinen Primêre Skool in Victoriapark pronk met agt tweelinge.

Selvin Timm, die skoolhoof, sê hoewel dit die meeste tweelinge in die skool se geskiedenis is, is dit nie die eerste keer dat die skool met ’n aantal tweelinge spog nie.

“Die skool het ’n ryk geskiedenis van tweelinge. Verlede jaar het ons vyf stelle gehad. Elke jaar was daar ’n paar,” sê Timm.

Die oudste tweeling in die groep is Marchonique en Maronique Adler (12). Die Adler-susters is in graad 7. Die twee sussies het dieselfde belangstellings. Albei is vanjaar prefekte, albei speel netbal en hulle sing saam in die koor.

Die sussies sê mense herken hul verskille. Marchonique het dimpels en Maronique het ’n moesie in haar gesig.

“Soms baklei ons, maar dis lekker om ’n tweelingsussie te hê. Ons is beste maatjies. Ons vertel mekaar geheime. Ons was nog elke jaar in dieselfde klas behalwe gr. 2 en 7,” sê Marchonique.

“Ek glimlag vir alles, maar my sussie het nogal ’n humeur,” skerts Maronique.

Die jongste tweeling in die groep is die gr. R-leerders Enrique en Enriqey Rasper en John en Joshua Abrahams.

Shakeela en Shakira Claasen (gr. 6) is ’n identiese tweeling.

You need to be Logged In to leave a comment.