Witels Grondverskuiwing in die Slanghoekvallei is al die afgelope 50 jaar ’n diensverskaffer wat vertrou word vir die berge wat hulle versit – figuurlik en letterlik gesproke.
Die onderneming is in 1965 deur die Le Roux-familie begin, meestal vir die ontwikkeling van nuwe landbougrond. Dit het in 2001 ’n volwaardige maatskappy geraak en is tans in die bekwame hande van Jaco le Roux.
’n Algemene persepsie is dat Witels net grondverskuiwing doen, maar die onderneming is veel meer divers en is ook betrokke by, en volledig toegerus vir, siviele ingenieursprojekte en selfs grootskaalse vullisverwydering. Hier speel Witels ’n sleutelrol in township-ontwikkeling, die voorbereiding van paaie en stormwaterstelsels en dies meer.
Die Witels-span se boerdery-agtergrond gee hulle insig in die uitdagings en intensiteit van moderne boerdery. “Ons spesialiseer in koste-effektiewe maar effektiewe landbou-aktiwiteite,” sê Jaco.
Die span bestaan uit 41 permanente werknemers, van wie ses al sedert die ontstaansjare by die maatskappy is.