Alkohol en-sigaretverkope steeds verbode

“Die tydelike verbod op die verkoop van alkohol en tabak tydens die 21-dae inperking is slegte nuus vir diegene wat afhanklike gebruikers is en is ‘n gulde geleentheid vir swartmarkverkope.”


“Die tydelike verbod op die verkoop van alkohol en tabak tydens die 21-dae inperking is slegte nuus vir diegene wat afhanklike gebruikers is, en is ‘n gulde geleentheid vir swartmarkverkope.”

Dit is volgens Keith Scott van die South African Drug Policy Initiative (SADPI), ’n vrywillige vereniging wat as kampvegter optree vir die wettige en veilige regulering van middels soos alkohol en tabak.

Minister van polisie, Bheki Cele het aangekondig dat geen alkohol of sigarette toegelaat sal word om verkoop te word gedurende die 21-dae inperking wat deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is om die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika te bekamp nie.

Sigaret- en alkoholrakke by sommige supermarkte is gedurende hierdie tyd deur gewone voedselitems vervang.

Cele het weer tydens ’n perskonferensie benadruk dat die reëls ten opsigte van hierdie verkope nie verslap sal word nie en dat dit vir alle provinsies sal geld. Standard het met navrae aan die Superspar in Robertson, asook Checkers verneem dat geen sigarette, tabakprodukte of alkohol verkoop sal word nie en dat hul by die riglyne sal hou tensy anders vermeld vanaf nasionale regering.

SADPI erken dat hoewel die inperking meriete het en in ooreenstemming is met die beste praktyke in die wêreld, die regering verkeerd met die verbod omgegaan het.

“Hierdie ad hoc-wet versuim om die skade te oorweeg wat die afdwinging daarvan het op die talle kwesbare persone wat aan dwelmgebruik-steurnisse ly,” het Scott verder gesê.

Johan Smit van die Christelike Afhanklikheidsdiens in Robertson het aan Standard gesê dat die erns van die saak nie deur die regering ingesien word nie en dat dit nadelige gevolge kan inhou vir die wat afhanklik is en nou uit dwelmafhanklikheid probeer kom.

“Wat doen die verslaafde nou in sy uur van ontkenning? Dié wat dwelmafhanklikheid probeer afweer en met onttrekkingsimptome sit word nou die ergste geraak. Ek self was 25 jaar gelede ’n afhanklike en alkoholis. Dit is van kardinale belang dat hierdie hersien moet word,” sê Smit. 

Scott vertel verder in die geval van alkoholgebruik kan baie mense met dwelmgebruik-versteurings nie net ophou om dwelms te gebruik nie. “As hulle dit wel doen, loop hulle die risiko om ’n verskeidenheid simptome te ontwikkel, waaronder psigose, aanvalle en uiteindelik die dood kan deel vorm daarvan. Nou soek hul die geleentheid om op die swart mark te koop wat net kan lei tot ’n in hegtenisname,” voeg Scott by. Daar word gesê dat diegene wat oor die hulpbronne beskik om voor die inperking voorraad te kon koop en te berg, veilig is, maar dat daar van die gebruikers is wat nie kon koop nie en nou alternatiewe metodes soek om hul afhanklikheid te beheer. “Hierdie eis nooi kriminele uit om aan dié behoefte te voldoen en tydens die verbod wel onwettig die produkte te verkoop.” SADPI stel voor dat die verbod so gou as moontlik omgekeer moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.