Touwsrivier Primêre Skool het onlangs ’n besoek van ’n astrofisikus van die VSA, Moiya McTire (24), ontvang. McTire is tans ’n student aan die Universiteit van Columbia.
Dit was Anja Fourie van Square Kilometre Array (SKA) se idee om McTire na die skool te nooi.
“Leerders was nie net in ekstase oor wat Moiya al in die lewe bereik het nie, maar dit was juis haar moeilike kinderjare wat tot kinders se harte gespreek het en die gevolglike motivering en aanmoediging om bo jou omstandighede uit te styg,” sê Clemence Thomas, ’n onderwyser.
McTire het in ’n woudagtige steenkoolmyndorp naby New York in die VSA grootgeword.
“Die moeilike sosio-ekonomiese omstandighede waarin sy grootgeword het, kon nie ’n demper plaas op haar droom om ’n sterrekundige te word nie. Sy is tans besig met haar doktorale studie in astrofisika. Sy doen tans navorsing oor eksoplanete, dit wil sê planete wat aan ander sterre behoort.
“Moiya is nie net ’n beeldskone, intelligente akademikus nie, maar ook ’n kranige rugbyspeler. Sy het ook verskeie pryse ontvang vir haar bydrae tot die bevordering van die wetenskap en het verskeie publikasies in vooraanstaande wetenskaplike tydskrifte die lig laat sien,” sê Thomas.
“Ek het nog nooit gesien dat iemand so gou onder kinders se vel kan inkruip nie. Haar handtekening was vir die leerders so kosbaar dat hulle dae lank óm die handtekening gewas het. Ons weet dat Moiya ’n saadjie in kinders se lewens kom plant het, en as ons getrou water gee, mag hul paaie eendag weer met Moiya s’n kruis,” sê Thomas.