Arts rus na 40 jaar

Nie baie mense kan sê hulle dien al langer as vier dekades in dieselfde beroep nie.

Dokter Louis Linde op sy laaste dag op pad werk toe op 31 Desember 2021.

Credit: SYSTEM

Nie baie mense kan sê hulle dien al langer as vier dekades in dieselfde beroep nie.

Dokter Louis Hans Linde (70) het verlede jaar op 31 Desember die laaste keer werk toe gery. Hy het ná sowat 40 jaar in die mediese veld afgetree. Hy was een van die langsdienende algemene praktisyns in die dorp.

Linde, wat in 1976 as dokter gekwalifiseer het, sê hy het die eerste twee jaar van sy loopbaan in die Tygerberg-hospitaal gewerk en daarna Worcester toe gekom om by die destydse Eben Dönges-hospitaal te werk. Hy is toe in 1979 noorde toe om privaat in Heidelberg te praktiseer, en het ná twee jaar teruggekeer Worcester toe.

Linde sê hy het in sy matriekjaar eers besluit om ’n dokter te word.

“Ek het by die Universiteit Stellenbosch aansoek gedoen en is aanvaar, maar ek is direk ná my matriekjaar eers weermag toe. Ek het in 1971 by Stellenbosch ingeval.”

Hy vertel van die lesse wat hy oor sy 40 jaar as dokter geleer het, is dat jy altyd jou professionaliteit moet behou.

“Jy moenie ’n standaard stel waarby jy nie kan hou nie.”

Hy beskryf die hoogtepunt van sy loopbaan was altyd om vir sy pasiënte tot diens te wees.“Die beste deel van my werk was wanneer ek pasiënte gespreek het.”

Hy het nog nie besluit wat hy volgende ná sy aftrede gaan aanpak nie, maar het nou weer begin gholf speel.

’n Interessante stukkie geskiedenis is dat die praktyk waar hy was, die mediese sentrum gebou het en later het Medi City (die huidige MediClinic) langs hulle geopen, wat die begin van die mediese spilpunt in die dorp was.

You need to be Logged In to leave a comment.