Die hoofmeisie van 2020 van HTS Drostdy, Mia Ramsauer, het die pas aangegee vir haar medematrikulante en het as topkandidaat haar skoolloopbaan by dié skool afgesluit.
Ramsauer het met Standard gesels oor die moeilike jaar wat matrikulante moes deurmaak en het ook haar wenresep gedeel om ander te inspireer.
“Dit was ’n moeilike jaar met ‘curveballs’ wat na ons toe geslinger was. Ek is vir seker trots op my uitslae, maar dit is ook menslik om altyd te wil verbeter,” vertel Ramsauer.
Sy beskou haar uitslae as ’n seëning te midde van die inperking en tuisonderrig wat hulle moes oorkom.
“Dit is belangrik om in tye soos dié die groter prentjie raak te sien en doelgerig te werk te gaan om jou drome te bewaarheid.”
Die slimkop het ’n gemiddeld van 92% in haar finale matriekeksamen gekry.
Sy is nou op pad om haar graad in veeartsenykunde te voltooi.
“Ek het vroeg tot die besef gekom dat ek self verantwoordelikheid sal moet neem as ek enigsins sou wou sukses behaal. Om skuld op die pandemie te pak sou my drome niks help nie en ek het skouer aan die wiel gesit.”
Ramsauer se wenresep is eenvoudig maar verg steeds dissipline: “Werk deurlopend hard, hou God naby om kop bo water te hou”.
Sy was ook bevoorreg om ’n goeie ondersteuningsnetwerk te hê soos haar onderwysers by haar alma mater.
“My advies aan die klas van 2021 is dat hulle vinnig moet besef dat hulle jaar nie ‘normaal’ sal uitdraai nie. Leer jouself klein dingetjies raaksien, soos vriendskap en kameraadskap met jou medematrikulante.”
Die belangrikheid van lang- en korttermyn doelwitte wat nie beïnvloed word deur moontlike veranderlikes buite jou beheer nie, is ook deel van Ramsauer se raad aan vanjaar se matrikulante.
“Harde werk bring altyd sukses wat nooit teleurstel nie,” sluit sy af.