Tiger Brands het pas aangekondig dat hy nie sy inmaakfabriek in Ashton oor twee maande gaan sluit nie.
Die maatskappy het Dinsdag in ’n persverklaring gesê hy gaan sy bedrywighede by Langeberg & Ashton Foods (L&AF) vir nog ’n seisoen voortsit.
Volgens Tiger het hy die besluit geneem nadat ’n ooreenkoms bereik is met verteenwoordigers van seisoenale werkers en plaaswerkers, L&AF-werknemers en produsente.
Hiermee saam, sê Tiger Brands, gaan hy egter voortgaan met onderhandelinge en gesprekke met belanghebbendes om ’n koper te kry wat in staat is om die fabriek te laat voortgaan met ingang van die volgende seisoen.
Tiger Brands sê na twee jaar se volgehoue onderhandelinge en gesprekke, kon hy steeds nie ’n volhoubare koper vir die fabriek kry nie, maar in die afgelope weke het ’n “aansienlike aantal partye belangstelling in verdere gesprekke oor die moontlike verkryging van L&AF uitgespreek”.
’n Kooptransaksie sou egter nie afgehandel kon word vir ’n koper om die 2022/23-oes met sukses te kan hanteer nie. Die maatskappy het dus sy sleutelvennote betrek in die besluit om nog ’n seisoen vrugte te bly verwerk.
“Die buigsaamheid, oopkopmanier en goeder trou wat deur alle partye getoon is om hierdie ooreenkoms te kon bereik, laat ons nou toe om noukeurig te soek vir nuwe voorstelle ten opsigte van ons inmaakbedrywighede,” sê die maatskappy.
Dit verseker dat die fabriek se 250 permanente werknemers en die altesaam 4 300 seisoenwerkers se werk vir eers veilig is vir ten minste nog een seisoen, sê Noel Doyle, Tiger Brands se uitvoerende hoof.
“Die verwerking en bemarking van sagtevrugte bly onderhewig aan die onvoorspelbaarheid van die weer, wisselkoerse en wêreldwye prysdinamika, maar dié ooreenkoms dra betekenisvol by om die risiko van aansienlike bedryfsverliese in die komende seisoen te versag.”
Tiger Brands sê hy sal intussen alle moontlikhede ondersoek, en terselfdertyd weer kyk na die lewensvatbaarheid van sy huidige belang in die fabriek. Die maatskappy het ook onderneem om voort te gaan met verbintenisse met die Wes-Kaapse en nasionale regering, en om voort te gaan om gesprekke te voer met moontlike kopers.