2020 was nie ’n maklike jaar nie, maar as jy met die twee topmatrikulante van Ashton Sekondêr praat, besef jy dat “moontlik” vir “maklik” enige dag ore kan aansit.
Dié skool se beste presteerder, Kayllen Stallenberg (18), het haarself verbaas en sommer vyf onderskeidings ingepalm en ’n gemiddeld van 76% behaal, maar dit het nie gekom sonder harde werk nie.
“Ek het dit nie verwag nie, want dit was ’n moeilike jaar, maar ek weet ek het hard gewerk. Dit was moeilik om soms by die huis te moes leer en om self deur die werk te gaan – soms voel jy ongemotiveerd, maar dan dink jy aan jou toekoms en jy besef hoekom jy dit doen en vir wie jy dit doen. Jy moet dan deurdruk – daar is geen ander uitweg nie,” sê sy.
Haar gunstelingvak op skool was lewenswetenskappe en eersdaags sal sy by die Universiteit van Wes-Kaapland aansluit om ’n graad in arbeidsterapie aan te pak.
“Ek is lief vir mense en ek hou van probleme oplos. Ek wil bitter graag na ek my graad voltooi het vir ’n paar jaar vir die regering werk en daarna my eie praktyk oopmaak. Dit is net as dit die Here se wil is – hy het my tot op hede die krag gegee en deur alles gedra.”
Kayllen sê haar ouma was haar grootste inspirasie en motivering in dié afgelope jaar.
“Ek woon by my ouma. Sy maak my groot en was nog altyd my grootste cheerleader. Sy was in trane toe ek my uitslae kry,” vertel dié jongeling.
’n Ander jong man van dié skool, Siyabonga Sipambo (18) het ’n gemiddeld van in die 70% bereik, maar het bykans nie eens sy matriekjaar voltooi nie.
Siyabonga, oftewel Beast soos sy vriende hom noem, se ouma het nes die meerderheid van mense ’n vrees vir Covid-19 ontwikkel. Dit het daartoe gelei dat sy gesin hom nie toegelaat het om terug te keer skool toe nie. Afgesien van die tyd wat leerlinge regoor Suid-Afrika nie skool toe mag gegaan het nie, het hy ’n addisionele maand van skool misgeloop.
“Ek wou opgee en het op ’n stadium dit oorweeg om skool te los en matriek dan later eers te voltooi, maar iets het vir my gesê ek moet. Iets het net gesê ek kan – en daarvoor is ek baie dankbaar.”
Siyabonga het toe skouer aan die wiel gesit en nagte om studeer om agterstallige werk in te haal. Toe die uitslae op Dinsdag (23 Februarie) vrygestel word, het hy nie net geslaag nie, maar ook ’n bo-gemiddelde sertifikaat ontvang met universiteitsvrystelling.
“Ek was geskok. My ouers was ook net so bly vir my gewees. Ek het net gedink ek was en is baie gelukkig.”
Hy is ook sportmal en het in sy skoolloopbaan graag rugby gespeel. Sy droom om eerstespan te speel het vroeg in 2020 waar geword, maar na die eerste wedstryd het die Covid-19-pandemie alles tot stilstand geruk.
Alhoewel hy universiteitsvrystelling het, is hy nog onseker hoe hy dié droom gaan bewaarheid.
“Ek wil graag aansoek doen, maar dit is maar moeilik. Ek wil baie graag ’n besigheidsman word en besigheid gaan studeer. Hopelik sal ek daai droom binnekort kan waarmaak en bereik.”