Hier by die opening van Ashton-vaardigheidsakademie is Zola Ndika (adjunkhoof onderwysspesialis), Melissa Carstens, Pieto Fourie, Ilse Fourie, Lelanie Hamelink en André Lamprecht (hoof onderwysspesialis).

Presies tien maande ná die eerste sooispitseremonie het die Ashton-gemeenskap onlangs byeengekom om die amptelike opening van die Ashton-vaardigheidsakademie (AVA) te vier – ‘n baken van hoop, vaardigheidsontwikkeling en geleenthede in die hartjie van die Langeberg.

Die geleentheid was ‘n roerende huldeblyk aan die gemeenskap, skenkers en visiehouers wat hierdie transformasionele projek moontlik gemaak het. Hoogtepunte van die dag was die lintknip- en boomplant-seremonie – simbolies van nuwe begin en groei. Gaste kon die splinternuwe klaskamers, werkwinkels en opleidingskombuise van hoogstaande wêreldklasstanddaard, wat ontwerp is om Ashton se jeug te dien, besigtig.

Wat begin het as ‘n droom en in omgee gewortel, het ontkiem tot ‘n bruisende sentrum van vaardigheidsontwikkeling. Die plant van bome is simbolies van die groei van die Ashton-vaardigheidsakademie tot ‘n sentrum van veiligheid, persoonlike ontwikkeling en opleiding en die vrug van die nalatenskap vir geslagte van die Langeberg-gemeenskap.

Die Ashton-vaardigheids-akademie is die resultaat van ‘n passievolle visie van Ashton in Action, ‘n gemeenskaps-organisasie sonder winsbejag, wat deur Patrizia van Zyl en Nelanie Bruwer gestig is. Hulle is later bygestaan deur Amanda de Wet as direkteur sowel as ‘n toegewyde span wat Odwa Mvunge en Wilna Briesies insluit.

Die boomplant seremonie was simbolies van nuwe groei
Die boomplant seremonie by die Ashton-vaardigheidskool was simbolies van nuwe groei.

Ashton in Action, wat deur Bonnievale 418, die stigters van die Jakes Gerwel Tegniese Skool geïnspireer is, het hom daartoe verbind om leerders met leerhindernisse werklike geleent- hede te gee om te slaag.

Die Ashton-vaardigheids- akademie stel leerders in staat om hul skoolloopbaan met ‘n sertifikaat van bekwaamheid af te sluit, wat hulle toegang tot verdere opleiding of die arbeidsmark kan bied.

Die akademie fokus met ‘n kern-oortuiging dat alle leerders potensiaal het en nie net op akademiese en tegniese vaardighede fokus nie, maar ook holistiese ontwikkeling van kinders, wat selfvertroue en waardigheid bevorder en volhoubare gemeenskapsontwikkeling ondersteun.

Fetale-alkohol-spektrum-afwykings

Die behoefte aan ‘n vaardigheidsakademie in die Langeberg-gebied is duidelik: ‘n Geskatte 20 tot 28% van gr. 1-leerders in die streek toon tekens van fetale-alkohol-spektrum-afwykings.

Daar is ‘n tekort aan tegniese en praktiese onderrigopsies wat prakties gesinde leerders motiveer. Oorvol klaskamers – met tot 50 leerders per onderwyser – belemmer doeltreffende leer. ‘n Groot tekort aan ambagslui in Suid-Afrika, swak akademiese prestasie, vroeë skoolverlating en ‘n gebrek aan gesinsondersteuning lei tot langdurige werkloosheid.

Die Ashton-vaardigheids-akademie poog om hierdie siklus te breek deur ‘n vaardig- heidsgebaseerde onderrigmodel te bied wat vir elke leerder se behoeftes en sterkpunte aangepas is. Die skool is ontwerp om aanvanklik 240 leerders te akkommodeer.

As ‘n Samewerkingskool verteenwoordig die Ashton-vaardigheidsakademie ‘n 60:40-private openbare vennootskap tussen Ashton in Action en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD). Hoewel die WKOD verantwoordelik sal wees vir die skool se daaglikse bedryfskoste, het Ashton in Action die leiding geneem met die insameling van geld vir die bou van die skool.

Die gemeenskap se reaksie was uitstaande. Skenkings het gewissel van R5 vir ‘n baksteen tot meer as R1,5 miljoen kontant en dienste.

Die opening van die Ashton-vaardigheidsakademie is meer as net die voltooiing van ‘n gebou – die begin van ‘n nuwe hoofstuk vir Ashton se jeug en ‘n plek waar vaardighede ontwikkel, selfvertroue opgebou en drome nagejaag word.

Terwyl ons terugkyk na die reis en die menigte hande wat hierdie akademie gebou het, word ons daaraan herinner dat ‘n gemeenskap wat saam droom, buitengewone dinge kan doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article