ATKV skuif skole se koppe

Die ATKV het verlede Woensdag ’n unieke skoolprojek, die Kopskuif-program, in Worcester se onderwysdistrik bekendgestel.


Die ATKV het verlede Woensdag ’n unieke skoolprojek, die Kopskuif-program, in Worcester se onderwysdistrik bekendgestel.

Melvina Mason Hearne, die projekorganiseerder, sê dié program is daarop gemik om gehalteonderwys in oorheersend histories benadeelde diverse Afrikaanse skoolgemeenskappe in die Noord- en Wes-Kaap te ondersteun.

“Elke program word uniek ontwerp om by die onderwyskring, munisipale distrik, forum of skoolgemeenskap se behoeftes en die beskikbare begroting te pas. Deel van die wenresep is dat dit ’n handevatprojek tussen die onderwysdistrik, die ATKV en verskeie gemeenskapsrolspelers is. Ons fokus veral op die senior bestuurspanne, opvoeders, leerders, beheerrade, niedoserende en administratiewe personeel en die ouers.

“Die Kopskuif-program skep ’n platform vir skole om waardevolle netwerke te vorm met ander rolspelers wat ook betrokke is in die onderwys. Skole wat reeds aan die program deelgeneem het, pluk steeds die vrugte daarvan,” sê Mason Heare.

Sy sê dit is die eerste keer dat dié program in Worcester van stapel gestuur word.

“Sedert 2016 ontvang ons versoeke van dié onderwysdistrik om betrokke te word hier. Weens ons druk program was dit egter nie moontlik om vroeër betrokke te word nie, hoewel ons op 23 September 2016 ’n suksesvolle gesprek met skoolhoofde gehad het.”

Die ATKV gaan verskillende programme deur die jaar by die skole aanbied.

“Eerstens bepaal ons die behoefte deur ’n vraelys aan skole te gee. Dit bepaal dan waarop ons gaan fokus omdat behoeftes in gemeenskappe, distrikte, kringe en provinsies verskil. Ons maak gebruik van interne fasiliteerders. Waar ander soort kundigheid verlang word, word eksterne diensverskaffers gebruik omdat ons net die beste vir skoolgemeenskappe daar wil stel.”

Mason Hearne sê dié projek lê haar baie na aan die hart.

“Onderwys is my passie en die vooruitgang van ons gemeenskappe en ons land is vir my ontsettend belangrik. Onderwys is die grootste rolspeler in die opbou van ’n land. Hierdie program durf baie kwessies aan en kan die gemeenskappe saambring en tot groter hoogtes lei. Ons by die ATKV glo ook dat die onderwys almal se verantwoordelikheid is en dit is waarom verskeie rolspelers ook by die projek betrokke is. Ons kan nie meer in isolasie funksioneer nie, want elke probleem op watter vlak ook al word later almal se probleem,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.