Bekende tiener (16) ry vriend om

’n Klag van roekelose en nalatige bestuur word teen ’n bekende seun (16) van Worcester ondersoek nadat hy glo Dinsdag 9 Junie ’n ander seun (ook 16) naby sy woning met ’n voertuig omgery het.


’n Klag van roekelose en nalatige bestuur word teen ’n bekende seun (16) van Worcester ondersoek nadat hy glo Dinsdag 9 Junie ’n ander seun (ook 16) naby sy woning met ’n voertuig omgery het.

Standard het verneem die voertuig het aan die beskul­digde se suster behoort. Die Worcester-polisie het die voorval bevestig en genoem dat die seun wat omgestamp is, ernstig in die voorval beseer is.

“My seun is Sondag (14 Ju­nie) uit die hospitaal ontslaan, maar hy het nog baie trauma en pyn ná die voorval. Hy het sy een been en kaak gebreek en daar is nog ander beserings ook,” het die pa van die slagoffer aan Standard gesê.

Die slagoffer het glo met die impak van die voertuig sy bewussyn verloor en het eers later in die hospitaal wakker geword, maar kon toe niks onthou nie.

“Daar lê omtrent drie tot vier maande van herstel vir my seun voor en ons wag nou op die hof se beslissing om te hoor wat werklik gebeur het omdat ons nie persoonlik gesien het wat gebeur het nie.”

Die beskuldige het as kind aan ’n gewilde televisie­pro­gram deelgeneem.

“Ons kan bevestig dat ’n 16-jarige slagoffer deur ’n voertuig getref is en hy het ernstige beserings in die voor­val opgedoen. Daar is ’n saak van roekelose en nalatige be­stuur aanhangig gemaak wat tans ondersoek word,” het ’n woordvoerder van Worcester-polisie, kapt. Tobela Dyasi, gesê.

Standard het die beskuldigde se ouer die geleentheid gebied om kommentaar te lewer, wat by monde van haar prokureur geweier het om op die navraag te reageer “hangende die afhandeling van enige ondersoek”. 

*Standard beskerm die identiteit van die betrokke partye omdat albei nog minderjarig is.

You need to be Logged In to leave a comment.