’n
Eenjarige seuntjie is kort voor 16:00 vanmiddag in die Worcester-hospitaal
dood nadat hy glo teen die kop getref is met ’n klip tydens bendegeweld in
Avianpark, Worcester.
Volgens inligting het die seuntjie verskeie kneusplekke aan sy lyf gehad. Daar word vermoed dat die pa die kind as ‘n skild gebruik het tydens ‘n klipgooiery in die woonbuurt, maar dit is nog nie amptelik bevestig nie.
Volgens
sers. Vathiswa Jacobs, polisiewoordvoerder, het die polisie ’n ander klagte op die
hoek van Vink en Katlagterstraat ondersoek, toe die kind se ma na die polisie
gehardloop het vir hulp.
“Die
polisie het die ma en kind na die hospitaal geneem vir behandeling, maar die
kind is 15:45 by die hospitaal dood,” het Jacobs gesê.
Die ma het glo van die werk af gekom toe sy die gewonde liggaampie by die huis kry. Die
kind was na vermoede in die pa se toesig.
Dit
word vermoed dat die pa die kind moonlik as ’n skild gebruik het tydens die
openbare geweld in Avianpark.
Die
pa het aan die polisie gesê die kind is reeds om 08:00 die oggend raakgegooi teen
die kop, toe hy met die kind in sy arms in die straat gestaan het. Hy het glo
net die kind in die huis geneem, waar die ma later die middag op die kind
afgekom het.
“Die
nadoodse ondersoek wys egter dat die kind verskeie beserings op sy lyfie geghad het.
Die noodlottige besering op sy borsie is die oorsaak van sy dood,” het Jacobs
bevestig.
Die
ander beserings was op sy maag, nek, rug en arms.
Die
pa is volgens Jacobs na die polisiestasie geneem vir verdere ondervraging.