Beskuldigdes, onder wie drie polisielede, uit op borgtog

Die vyf mense wat verlede week op aanklag van korrupsie in Wolseley in hegtenis geneem is, is almal op borgtog vrygelaat.


Die vyf mense wat verlede week op aanklag van korrupsie in Wolseley in hegtenis geneem is, is almal op borgtog vrygelaat.

Drie Wolseley-polisiebeamptes, ’n voormalige polisiebeampte en nog iemand wat nie aan die polisie verbonde is nie, is Vrydag 7 Januarie in hegtenis geneem.

Volgens die klagstaat staan al vyf tereg weens korrupsie en dwarsboming van die gereg.

Volgens betroubare inligting het die vyf beskuldigdes in April verlede jaar beslag gelê op dwelms by ’n huis in Wolseley, maar nooit die strafregtelike proses gevolg nie.

In e-pos aan hoër gesag in die polisie, wat in Standard se besit is, word die volgende verduidelik: “Op 21 April 2021 ontvang die betrokkenes inligting oor dwelms by Masiphelelostraat 37, Wolseley. Die beamptes het toe opgetree en beslag gelê op 200 Mandrax-tablette en 80 gram tik. Hulle het nie die verdagte [in hegtenis geneem] of die dwelms waarop beslag gelê is, in die SAPD 13-stoor [aangeteken] nie. Die voormalige sersant het toe na Ceres gery, waar hy die dwelms aan ’n onbekende persoon verkoop het. Op die volgende dagskof het hy die ander lede by die Wolseley-begraafplaas ontmoet. Hy het toe vir twee ander sersante R2 500 elk en R500 aan ’n konstabel gegee.”

’n Saak teen die vyf beskuldigdes is toe by die Wolseley-polisiekantoor aanhangig gemaak.

“Die aangeleentheid is by hierdie kantoor aangemeld en ná afhandeling van die ondersoek is die dossier na die direkteur van openbare vervolging (DOV) gestuur vir ’n besluit. Die DOV het besluit om die lede en die burgerlike weens korrupsie en regsverydeling aan te kla. Lasbriewe is op 6 Januarie vir hul [inhegtenisneming] uitgereik,” lui diee-pos.

Die polisiebeamptes is by die polisiekantoor in hegtenis geneem toe hulle vir diens aanmeld en die ander twee beskuldigdes by hul huise in Wolseley. Die vyf is by die Ceres-polisiekantoor aangehou tot hul verskyning in die Wolseley-landdroshof op Maandag 10 Januarie, waarna elk op R2 000 borgtog vrygelaat is. Die saak is tot Donderdag 27 Januarie uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.