moord en poging tot moord
Die polisie ondersoek die dood van ‘n geliefde Boland-rugbyskeidsregter en sy vriendin in De Doorns.

‘n Tragedie het gisteraand (16 September) in De Doorns afgespeel nadat ‘n geliefde Boland-rugbyskeidsregter, Jannie Wildskut en sy vriendin kort voor middernag dood is in ‘n vermoedelike liefdestwis.

Volgens kapt. F.C. van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het die De Doorns-polisie ‘n 40-jarige man en sy 35-jaar-oue vriendin dood by ‘n huis in Suncitystraat in Sunnyside Orchard in De Doorns aangetref. ‘n Girson 9mm-pistool is op die toneel gevind. Wildskut se vriendin se naam is nie bekend gemaak nie.

‘n Saak van moord is geopen en ‘n geregtelike doodsondersoek sal gedoen word. Die omstandighede om die voorval word ondersoek, het hy gesê.

Jannie Wildskut
Die geliefde Boland-skeidsregter Jannie Wildskut wat in rugbykringe as ‘n opregte en eerlike skeidsregter beskryf word.

Ontstellende videos doen op Whatsapp die ronde waarin ‘n emosionele Wildskut, onder sy vriende bekend as Jango, in ‘n video wat hyself neem, met ‘n swart tou om sy nek staan en met die kamera praat. In ‘n volgende video drink hy iets uit ‘n pienk plastiekaanmaakbeker, met ‘n oop vyf liter kannetjie waarvan die etiket nie gesien kan word nie, by sy voete. “Die tou het gebreek,” sê hy. In ‘n derde video sê hy: “Tou het nie gewerk nie, gif het nie gewerk nie, maar ek dink nie dat ‘n bullet sal misluk nie” en “Ek was nog nooit so lief gewees vir iemand nie”.

Dit is egter nie in hierdie stadium duidelik wanneer die videos opgeneem is nie.

Die nuus van die paartjie se afsterwe het skokgolwe deur De Doorns en omliggende dorpe gestuur. Wildskut is in rugbykringe beskryf as ‘n “goeie, opregte en eerlike skeidsregter’.

  • Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Inligting sal bygewerk word soos dit bevestig word.
  • Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep (SADAG) bied ‘n noodlyn vir diegene wat oorweldig of depressief voel. Hulle kan gekontak word by 0800 567 567 of besoek hul webwerf by www.sadag.org.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article