Christine Gerber het die tuig ná 40 jaar neergelê. Foto: Enrico Claassen

Ten spyte van talle uitdagings wat oor die jare oor haar pad gekom het, kon sy nietemin daarin slaag om die altesaam 13 biblioteke in die Breedevallei soos ‘n goed-geoliede masjien te laat funksioneer.

Christine Gerber (62), ‘n bekende gesig in biblioteekkringe, het op 30 September vanjaar – ná altesame 40 jaar in die biblioteekdiens – amptelik die tuig neergelê.

Sy was ten tyde van haar aftrede die biblioteekbestuurder van 13 biblioteke in die Breedevallei.

Gerber – oorspronklik van Robertson – vertel hoewel sy van kleins af reeds ‘n boekwurm is, wou sy haar aanvanklik as maatskaplike werker bekwaam.

Sy het egter as kind reeds gereeld in die Robertson-biblioteek uitgehang en die een ensiklopedie na die ander van hoek tot kant gelees.

“Ek het altyd gedink die tannies van die biblioteek is die slimste mense wat bestaan. Hulle kon vir jou inligting oor enige moontlike onderwerp gee.”

Sy vertel in haar matriekjaar het sy besluit om haar liewer in die biblioteek- wese te begewe.

Gerber het in 1981 aan die Hoërskool Robertson gematrikuleer.

Hierna is sy na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ‘n kwalifikasie in biblioteekkunde verwerf het.

Dié ma van drie seuns vertel sy het in Desember 1984 – die jaar toe sy gegradueer het – as biblioteek-assistent by die Worcester-biblioteek, wat toe in die gebou tussen Barnyard Deli en die destydse Koffiehuis-winkel in Hoogstraat geleë was, begin werk.

Sy was toe “so 21, 22 jaar oud”.

Gerber het in daardie tydperk ‘n pos as bibliotekaris in Oudtshoorn gekry.

“Ek het besluit om eerder in Worcester as biblioteek-assistent aan te bly omdat my pa siek was en ek die enigste kind was.

“Ek het instinktief geweet ek sal myself eendag opwerk tot waar ek wil of kan wees.”

Gerber het in 1988 na die Worcester-biblioteek in Waterloostraat geskuif.

“Dit was ‘n ervaring op sy eie om hierdie nuwe fasiliteit aan die gemeenskap bekend te stel, want die fasiliteite in Hoogstraat was maar beperk.”

Van waarnemende tot senior bibliotekaris

Gerber het in Januarie 1997 as senior bibliotekaris begin waarneem nadat haar eerstydse hoof, Heleen Farmer, in 1996 afgetree het.

Sy is kort hierna in die pos van senior bibliotekaris aangestel.

Gerber was nie net die hoof van die Worcester-biblioteek nie, maar het ook ‘n oorsigrol oor die Esselen- en Zwelethemba-biblioteke gehad.

In 2001, vertel sy, het die Touwsrivier-, De Doorns- en Rawsonville-munisipaliteite met die Worcester-munisipaliteit saamgesmelt en die Breedevallei-munisipaliteit is gevorm.

Gerber sê haar oorsigrol het toe uitgebrei. Volgens haar het elkeen van die biblioteke in dié onderskeie dorpe sy eie stel reëls en stelsels gehad.

“As senior bibliotekaris moes ek toesien dat ‘n eenvormige stelsel op die been gebring word. Dit was nie so maklik nie – veral omdat die personeel vir jare daaraan gewoond was om ‘n ding op ‘n sekere manier doen.”

Sy vertel toe die biblioteekposte in ‘n stadium herevalueer is, is besluit om die pos van biblioteekbestuurder te skep.

Sy het vir die pos aansoek gedoen en dit in 2001 gekry.

“In daardie stadium was daar altesaam sewe biblioteke, voordat die Avianpark-biblioteek jare later bygekom het. Dis toe nie meer net ‘n oorsigrol nie – dit was ‘n baie groter verantwoordelikheid.”

Uitdagings bied ook geleenthede

Gerber was in daardie stadium verantwoordelik vir al die adminisitratiewe werk, totdat ‘n administratiewe assistent en inligtingstegnologie-beampte onderskeidelik sewe en vyf jaar gelede aangestel is om haar te help.

Sy sê die biblioteekdiens se begroting was oor die jare heen ‘n uitdaging omdat biblioteke nie as ‘n kernfunksie van die munisipaliteit gesien word nie.

“Jy het dus ‘n basiese begroting gekry waarmee salarisse betaal en geboue instand gehou moet word.’

Volgens Gerber het die biblioteekdiens in ‘n stadium ‘n voorwaardelike toelaag van die provinsiale biblioteekdiens ontvang, waarmee ‘n groot deel van die personeel se salarisse betaal kon word.

Nog ‘n uitdaging is om biblioteek-personeel aan te por om passievol oor inligtingsverskaffing te wees.

Sy glo ook uitdagings kan in geleenthede omgeskep word.

Gerber vertel in haar termyn is altesaam vyf mini-biblioteke in meer afgeleë gebiede opgerig nadat die biblioteekdiens ‘n versoek hiervoor deur die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ontvang het.

Sy glo ‘n bibliotekaris moet daarna streef om op hoogte te bly van inligting in verband met skrywers, digters, nasionale en internasionale dae en weke van belang en om inligting aan die biblioteek se gebruikers beskikbaar te stel.

Sy sê ook ‘n bibliotekaris moet sy of haar gemeenskap goed genoeg ken om inligtingsbehoeftes te identifiseer en daaraan te voldoen.

“ ’n Bibliotekaris moet dus lief wees vir boeke, maar ook met tegnologie kan versoen, kliëntgedrewe wees en goed kan kommunikeer.”

Gerber sê gaan sy haar interaksie met kollegas en die gemeenskap baie mis.

Sy beplan om in Januarie 2026 by gemeenskapsprojekte wat met geletterdheid gepaard gaan, betrokke te raak en sê ook sy gaan gewis nog by die biblioteek betrokke wees.

• Gerber is ‘n trotse kankeroorwinnaar. Kolonkanker is in 2020 by haar gediagnoseer. Sy is in Augustus vanjaar kankervry verklaar. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.