Blinde 16-jarige beste musikant

Ying-Shan Tseng (16), ’n veelsydige en talentvolle musikant van Worcester Gimnasium, mik vir die sterre.


Ying-Shan Tseng (16), ’n veelsydige en talentvolle musikant van Worcester Gimnasium, mik vir die sterre.

Dié gr. 11-leerder het onlangs weer ’n hele aantal topprestasies behaal.

Sy het in die Stellenbosch-kunswedstryd sewecum laude(90% tot 100%) -prestasies in die sangkategorie in die afdelings Afrikaanse kunslied, operette, musiekteater, volkslied, klassieke lied, kunslied en konsertprogram behaal.

In die klavierafdeling het sy silwer (70% tot 74%) en silwer + (75% tot 79%) -prestasies in die afdelings Barok, J.S. Bach, sonata, klassiek en romanties behaal.

Ying-Shan het ook die solo-afdeling in die SA Skoolkore-eisteddfod gewen en is nou die beste solokunstenaar in die provinsie. Sy gaan later vanjaar aan die nasionale ronde deelneem om teen die wenners van die ander provinsies mee te ding.

Sang is nie haar enigste talent nie – Ying-Shan speel ook dwarsfluit en klavier.

“Ek het op drie klavier begin speel en op elf het ek begin sing,” sê Ying-Shan.

Sy is visueel gestremd, maar dit weerhou haar nie om haar drome na te streef nie.

“Dit is nie maklik om blind te wees en steeds dieselfde vakke as siende leerders te neem nie. Daar is min blinde mense wat dié uitdaging aanpak. Ek wil dit doen sodat ek ander kan ondersteun. Ek hou nie daarvan as mense sê ek is blind en ek kan nie dit of dat doen nie. Ek wil net vir almal probeer wys dat jou gestremdheid jou nie moet verhinder om mylpale te bereik nie,” sê Ying-Shan.

Sy het ook ander stokperdjies as sy nie mense op die verhoog vermaak nie. “Ek lees fiksie en niefiksie. Ek het selfs die Harry Potter-reeks gelees,” vertel sy. Sy praat vier tale en kan selfs in Russies sing.

Haar sangafrigter, Karen Zaayman, sê daar is drie belangrike kenmerke om ’n goeie musikant te wees. “Dit vereis wysheid, harde werk en talent, en sy het al drie,” sê Zaayman.

Dorothy Rabie, hoof van Worcester Gimnasium se musiekdepartement, sê dis ’n groot uitdaging om in ’n gewone skool te funksioneer, veral met ’n gestremdheid. Ying-Shan funksioneer egter geweldig goed. “Dis selfs ’n uitdaging vir onderwysers. Volgende jaar moet ek haar deur gr. 12 sien. Dis vir my ook ’n leerskool,” sê Rabie.

You need to be Logged In to leave a comment.