Nooit sou Morné van der Merwe kon dink dat hy ‘n internasionale kookkompetisie sou wen nie. Maar sy pastaresep met vars tamatie, basiliekruid en parmesaankaas het die beoordelaars se monde laat water.
“Ek was eers baie skepties toe Marlene Jordaan van Innovation for the Blind my hiervan vertel, maar ons het besluit om die kans te waag,” vertel Van der Merwe.
Hoewel hy en sy vrou, Heaven, blind is, is hulle bykans selfstandig en kook Van der Merwe elke aand vir hulle. Hy werk by Innovation for the Blind waar hy ABET-klasse gee en is ook betrokke by ‘n radiostasie waar hy dramas opneem. Hy rig ook ‘n koor af.
“Om vir die kompetisie in te skryf, mag jy geen siende hulp hê nie en slegs die filmofgraaf wat dit verfilm, mag by wees, maar kan nie help nie. Ons het by Tharina Marais van Pure Boland aangeklop vir die bestanddele en die heerlikste kraakvars tamaties, knoffel en basiliekruid uit tuine is geborg. Ons het min dinge van winkelrakke af gebruik – selfs die pasta is deur ‘n inwoner met die hand gemaak,” vertel hy.
Die Golden Eye Chef is die wêreld se enigste internasionale kookkompetisie vir blindes en word sedert 2019 aangebied.
Van der Merwe vertel die sleutel vir sy sukses is beplanning. “Ek weet presies waar sit ek wat neer. ‘n Mens leer om jou ander sintuie te gebruik wanneer jy kook en nie kan sien nie. As jy rys kook, klink dit anders as die water min raak en as jy ‘n lepel in ‘n pot sit, kan ‘n mens voel as die water nog weerstand gee. Ek gebruik ook ‘n toetspen wanneer ek ‘n hoenderpastei maak en voel of daar nog deeg aan kleef.”
Sy kookreis het begin danksy ‘n vrien-
din toe hy ‘n student was. “My ma het vir my kos saam universiteit toe gestuur, maar my vriendin het gesê daar is geen rede hoekom ek nie kan leer kook nie. Sy het ‘n pot en pan gebring en my begin leer om eiers te kook, witsous te maak en selfs aartappels te bak.”
Deesdae is hy baie lief daarvoor om met broodresepte te eksperimenteer en hou sy suurdeegplantjie, genaamd Grietjie, al vier jaar aan die lewe.