Boerklong bak sy ouma se pasteie

’n Ouma se gesogte hoenderpastei-resep het daartoe gelei dat ’n boerklong van Wolseley sy eie pastei-besigheid begin het.

Links: Daniël Muller het drie maande gelede besluit om te leer hoe om pasteie te maak en sy pastei-onderneming het twee weke later begin. Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

’n Ouma se gesogte hoenderpastei-resep het daartoe gelei dat ’n boerklong van Wolseley sy eie pastei-besigheid begin het.

Daniël Muller (23) het drie maande gelede besluit sy ouma moet hom leer hoe om haar beroemde hoenderpastei te maak.

Twee weke later het hy besluit om die onderneming Ouma se Pasteie te begin.

“Ek het ’n jong, hardwerkende ouma in haar 70’s. Sy geniet nog altyd ’n groot aanvraag na haar hoenderpasteie – só erg dat ons in die familie baie min van hierdie pasteie kry,” verduidelik Muller, wat ook voltyds saam met sy pa buite Wolseley boer.

Ouma, oftewel Rita du Toit, was baie opgewonde toe haar kleinseun wou leer om pasteie te maak.

“Sy was tog te in haar noppies om my te leer. Dit was egter ’n storie om die deeg reg te kry, asook al die speserye wat in die hoenderpastei moet gaan, maar ek het dit toe onder die knie gekry,” verduidelik Muller.

Hy het ná twee weke se opleiding sy eie pasteie aan sy vriende begin bemark.

“Van daar af het dit vlamgevat. Ek werk elke dag tot 17:30 en van daar af bak ek pasteie vir die volgende dag se bestellings. Dit duur soms tot baie laat. Ek het al tot eenuur in die oggend gebak. Die vroegste wat ek klaargemaak het, was tienuur, maar gewoonlik is ek tot elf- of twaalfuur nog in die kombuis besig.”

Ouma Rita du Toit het haar kleinseun alles oor pasteimaak geleer.

Sy ouma bak ook steeds pasteie, maar dit het ’n punt bereik waar sy voel sy is reg om af te tree.

“Ek het gedink sy spot toe sy sê sy wil nou klaarmaak met pasteibak. Dis nou al by ’n punt waar sy haar klante na my verwys. Ek dink ouma is ook net bly dat iemand in die familie voortgaan met die besigheid en dat die resep nie verder dalk verlore sal raak nie.”

Muller bieg en sê hy het ’n liefde vir kook en die pasteie maak net nog ’n deel van sy passie uit. Sy langtermynplan is om die onderneming te laat groei.

“Ek wil dit dan nog verder uitbrei en ‘groot gaan’.”

Tans maak hulle net hoenderpasteie en moet Muller nog die fynere detail van ouma se ander pasteiresepte leer. Vir nou fokus hy net op die hoenderpastei-wenresep.

Op ’n vraag hoekom hy dink sy ouma se hoenderpasteie is so gewild, antwoord hy: “Ek dink die hoenderpasteie is so gewild omdat die deeg perfek is, en natuurlik is dit met ’n gesonde porsie hoender gevul.”

Besoek die Facebook-blad Ouma se Pasteie om bestellings te plaas of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 072 124 2529.

You need to be Logged In to leave a comment.