Met altesaam 7 200 woorde onder die knie, is die Genade-sibbe voorwaar spelghoeroes.
Dié boetie en sussie van Worcester, Christiaan en Imari, het vanjaar uitstekend by die WOW-spelfees gevaar.
Albei het in elke uitdunronde van vanjaar se kompetisie eerste plekke, goue medaljes en boekpryse in hulle onderskeie grade verwerf en as onoorwonne Wes-Kaap-wenners deurgedring na die nasionale eindronde in Stellenbosch.
Dié twee se prestasies kom van klipharde werk en goeie balans met ander aktiwiteite om dié spellery as ’n buitemuurse aktiwiteit aan te pak.
“Ek was in graad 5 toe ek begin spel het. Die onderwyser het genoem dat leerders wat die beste in Afrikaans vaar, die geleentheid sal kry om aan ’n spelkompetisie deel te neem,” vertel Christiaan, ’n graad 7-leerder aan Worcester Primêr. Imari, nou in graad 5, het dieselfde jaar begin deelneem as graad 3-leerder.
“Die kompetisie is baie taai omdat jy uitval as jy net één fout maak,” vertel Christiaan.
“Christiaan het verlede jaar deurgedring na die nasionale eindronde waar hy die tweede plek verower het,” vertel hul ma, Ina.
Christiaan het ongelukkig nie die woord afgesluit wat hy gespel het nie, die tyd het uitgeloop en dit het toe veroorsaak dat hy tweede kom.
“Die WOW-spelfees het baie reëls en hulle is verskriklik streng dat dit nagekom moet word,” sê Ina.
Met elke uitdunronde vanjaar het hulle ’n graad of twee bo hulle eie graad se woordelyste geleer – so het Imari byvoorbeeld tot graad 9-spelwoorde geleer en Christiaan tot by graad 10. Die beoordelaars kan ook enige ander woorde uit die woordeboek vra.
“Imari en Christiaan het vir die nasionale kompetisie elkeen 3 600 woorde geleer. Hulle het ’n baie besige program en ons probeer die woorde leer wanneer die een byvoorbeeld by ’n klavierles is en ons moet wag,” vertel Ina.
In vanjaar se nasionale eindronde het Imari in die topses van graad 5 geëindig, maar albei het ongelukkig uitgeval voor die einde.
“Ten minste ken ons nou ’n paar duisend woorde ekstra om lekker stories te kan skryf!” het Imari gesê.