Die broer van ’n bekende Springbok-rugbyspeler is in die sop nadat hy na bewering ’n pensioentrekker met R30 000 ingeloop het.
Johann Elstadt, oorspronklik van Montagu, het na bewering sowat R30 000 van sy 92-jarige slagoffer, Piet Borcherds, gevat – wat bedoel was vir die bou van ’n veiligheidsheining – maar hy het nooit die heining gebou nie.
Johann Elstadt se broer is Rynhardt Elstadt, wat slot vir die Bokke en Toulouse speel.
Die polisie het bevestig dat ’n saak van diefstal teen Johann Elstadt op 14 Maart aanhangig gemaak is en dat hy op 23 Maart aangekla is van diefstal nadat hy na bewering R30 000 van ’n 92-jarige man gevat het onder die voorwaarde dat hy ’n veiligheidsheining sou bou. Elstadt sou volgens die polisie op 11 April in die hof verskyn.
Piet Borcherds sê iemand het ’n ruk gelede vir Johann aanbeveel om ’n veiligheidsheining by sy huis op te rig. Borcherds wou ’n veiligheidsheining by sy huis in Worcester-Wes laat oprig nadat hy verlede jaar in sy huis aangerand is.
“Hy het hom kom voorstel as die broer van die Springbok-rugbyspeler Rynhardt Elstadt,” sê hy. Pieter Borcherds, die seun van Piet en voormalige hoof van Worcester-Noord Primêr, sê sy pa moes sy motor verkoop om die veiligheidsheining op te rig en toe vat Elstadt dit sonder skaamte sonder om enige werk te verrig. “Ek wou dit laat oprig om weer veilig te voel,” sê hy. Hy vertel Elstadt het hom op 25 Januarie vanjaar na Absa in die dorp geneem om ’n oorbetaling van R28 000 te maak.– Vervolg op bladsy 2