Boom wat val keer vrou in bakkie vas

’n Gehoorgestremde vrou is Dondermiddag in die kajuit van haar bakkie vasgekeer toe ’n boom op twee voertuie geval het.


boom van voertuie plat worcester
Die Renault Duster het die meeste van die boom se gewig geabsorbeer toe dit geval het.

’n Gehoorgestremde vrou is Dondermiddag in die kajuit van haar bakkie vasgekeer toe ’n boom op twee voertuie geval het.

Die voorval het in die parkeerterrein van die Pick ’n Pay in Porterstraat in Worcester gebeur.

Die fratsongeluk waarin die boom omgeval het, het ’n Nissan-bakkie en ’n Renault Duster erg beskadig. Binne minute was die parkeerarea vol mense wat wou kyk wat gebeur het.

Volgens Hilmer van der Westhuizen, woordvoerder vir Global Force EMS en die eerste nooddienswerkers op die toneel, het hulle omstreeks 12:30 ’n oproep ontvang oor die voorval en is onmiddellik uit om te gaan help.

“Ons het op die toneel gekom en gesien daar lê ’n paal op die grond wat soos ’n kragpaal lyk. Ek het toe dadelik die brandweer se beheerkamer gekontak en gevra dat hulle die elektrisiën uitstuur om die toneel te beveilig. Ons het toe lint gespan sodat ons mense uit die gevaarsone kon hou,” verduidelik hy.

Die elektrisiëns was binne minute op die toneel en het hulle ingelig het dat die draad geen gevaar inhou nie, aangesien dit ’n telefoondraad was.

boom van voertuie plat worcester
Die agterkant van die voertuie wat deur die boom platgeval is. Foto’s: Dominique Jeftha
boom van voertuie plat worcester
Die polisie en nooddienswerkers haal die vrou wat aan die passasierskant van die bakkie gesit het, uit.
boom van voertuie plat worcester
Die vrou is hier uit die kajuit van die bakkie gehaal.

Volgens Van der Westhuizen het hulle ’n bejaarde gehoorgestremde vrou in die Nissan bakkie aangetref. Sy was erg getraumatiseerd. Volgens Van der Westehuizen het sy gelukkig geen ernstige beserings opgedoen nie, maar dit was duidelik dat sy aan skok ly.

“Ons het protokol gevolg en haar uit die bakkie gehelp met die nodige toerusting en haar gestabiliseer in die ambulans,” verduidelik Van der Westhuizen.

Ao. Vathiswa Jacobs, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en het ook bevestig dat daar geen ernstige beserings was nie.

Volgens Vernon Loggenberg, ’n ooggetuie, was hy besig om kruideniersware in die motor te laai toe hy die slag hoor van die telefoonpaal wat op die grond val.

“Toe ek omdraai het die paal op die grond gelê en ek het die boom op die twee motors gesien. Ek het vinnig nader gehardloop om die man te help, want sy vrou was vasgekeer aan die passasierskant van die bakkie. Ek en hy het probeer om die stompe weg van die deur af te kry en toe vat die polisie oor.”

You need to be Logged In to leave a comment.