Skole in en rondom die Breedevallei het Boomplantweek gevier deur hul kennis van bome te verbeter.

Angelo Heyns, welstandskoördineerder van die Karootuin, het met die Suid-Afrikaanse Insitituut vir Biodiversiteit (SANBI) die belangrikheid van bome aangespreek wat, behalwe dat dit suurstof verskaf, ’n noodsaaklike deel vorm van die omgewing.

“Ons moet toesien dat die natuur bewaar word en nie onnodig bome afkap nie omdat dit lewe gee.” Heyns sê verkieslik moet slegs indringerbomer afgekap word. Dié bome gebruik te veel water en ontneem mense en ekosisteme. Die saad van hierdie bome word oorgedra deur diere of die wind. Inheemse bome soos geelhout word deur Heyns aanbeveel.

Leerders is die ideale teikengehoor omdat hulle die inligting aan familie en vriende oordra.

Wilfred Pheiffer van die Breedevallei-munisipaliteit se parke-afdeling het toesig gehou oor die projek. Hoërskool Breërivier, Rawsonville Primêr en Vusisizwe Hoërskool is van die skole wat ook bome geplant het.

’n Boekie wat gemik is op die onderrig van Suid-Afrikaanse kinders oor hoe om te sorg vir die omgewing is van stapel gestuur in die Wes-Kaap.

Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, het hierdie week amptelik die Grondkombers-boekie by die Instituut vir Volhoubaarheid van stapel gestuur.

Dié geleentheid het saamgeval met Nasionale Boomplantweek, wat tussen 1 en 7 September plaasgevind het.

Die boekie vorm deel van die LandCare-program en gee ’n uiteensetting van die belangrikheid van grond.

Dit sal in Afrikaans, Engels en isiXhosa uitgegee word. Die boekie sal ook beskikbaar gestel word aan skoliere tussen grade 5 en 7.

“Met hierdie boekie sal ons 7 000 kinders bereik. Boekies sal versprei word by altesaam 100 skole in die Wes-Kaap.

“Die boekie is ’n waardevolle bron omdat dit fokus op die jeug, die toekoms van die landbousektor,” het Winde gesê.

Dit is die vierde boek in ’n reeks. Nog ’n uitgawe wat fokus op die bestuur van water kom later vanjaar uit.

You need to be Logged In to leave a comment.