’n Enkele ui.
Dit is al wat oorgebly het toe ’n gesin van De Doorns se huis verlede Woensdag (27 April) in ’n vernietigende brand verwoes is.
Enkele minute voor die brand uitgebreek het, het Rozane Louw en haar broer Gerhard om die kombuistafel gesit en gesels terwyl haar vriend Jacobus Jaftha die erf skoongemaak het. Min het hulle geweet dat dit die laaste keer sou wees.
Rozane vertel hoe Jaftha se oom in die huis gekom en gesê het: “Ek weet wat ek weet,” en hom toe in sy kamer gaan toesluit het.
Kort daarna het hulle “’n groot lig” in haar kamer gesien.
“Teen dié tyd was my kêrel al in die huis en hy het gevra watter groot lig brand in ons kamer en toe ons die gordyn oopswaai, is dit wat ons die vlamme sien.”
Sy vertel verder hoe sy opgespring het en onmiddellik kraan toe gehardloop het om water te gaan kry, maar die vlamme was ongelukkig al te hoog.
“Ek het om hulp geskree en dat mense die brandweer moet bel.”
Vir ’n oomblik is sy stil en sê dan: “Weet jy, sy oom het Maandag gesê ons sal nog so sit, dan sal die plek afbrand.”
Die viervertrek-wendyhuis het tot op die grond afgebrand en toe Standard die volgende dag (28 April) op die toneel aankom, was daar net die ui wat oorgebly het.
Sy wys na die ui en sê: “Dit is al wat ons oor het.”
Volgens Louw het hulle nie ’n plek gehad om te slaap nie en dus het hulle vuur gemaak enkele meters van waar hul huis was, net om warm te bly.
“Ja, ons het niks, maar ons is ook dankbaar dat niemand seergekry het nie.”
Die paartjie benodig pale, plate, komberse en kos net om weer op die been te kom.
Mense wat graag iets aan hulle wil skenk kan Anneke Jaftha by 071 645 1343 bel.


