Die gebou op die hoek van Porter- en Durbanstraat in Worcester is onveilig verklaar en geen okkupasie word toegelaat nie.
So sê Hannelie Botha, ’n woordvoerder van Breedevallei-munisipaliteit (BVM), die afgelope week aan Standard Breederivier Gazette nadat die gebou Saterdagoggend vroeg deur ’n brand in puin gelê is.
“Verskeie klein ondernemings is deur die brand beskadig. Al die bewoners van die gebou is egter geraak, aangesien die gebou in hierdie stadium onveilig vir bewoning en gebruik verklaar is.
“BVM-geboubeheer het ’n brief aan die eienaar van die gebou uitgereik, wat nou ’n ingenieur moet aanstel om herstelwerk voor te stel en dan by die ingenieur se voorstelle te hou.
“Geeneen van die ondernemings kan dus voortgaan om vanuit daardie spesifieke gebou sake te doen nie.”
Volgens Botha is geen lid van die publiek of winkeleienaars in die voorval beseer nie.
Sy sê een van BVM se brandbestryders is wel beseer. Hy het mediese behandeling in die hospitaal ontvang en is later dieselfde dag ontslaan.
Hy was gister (20 November) terug op sy pos.
Volgens Botha is die strukturele brand omstreeks 05:32 by die Breedevallei se brandweer-en-reddingsafdeling aangemeld.
Sy sê met die brandweer se aankoms op die toneel het die dak reeds op verskeie plekke ineengestort.
Volgens Botha het die brandweer die verspreiding van die brand gestuit en kon hulle wel die helfte van die gebou red.
Die brand is om 06:30 in bedwang gebring en opruimingswerk het tot 11:29 geduur.
Sy sê die ondersoek na die oorsaak van die brand is nog aan die gang.
Volgens Botha kan die omvang van die skade in geldelike terme ook nog nie in hierdie stadium bepaal word nie.




