Brandweerman sterf in ongeluk

Een van die grootste nagmerries vir enige reddingswerker het Vrydag ‘n werklikheid geword toe reddingsdienste in die Breedevallei en die Kaapse Wynland-distrik op die ongelukstoneel afkom waar ’n kollega in ’n reddingsvoertuig vasgevang en oorlede is.


Een van die grootste nagmerries vir enige reddingswerker het Vrydag ‘n werklikheid geword toe reddingsdienste in die Breedevallei en die Kaapse Wynland-distrik op die ongelukstoneel afkom waar ’n kollega in ’n reddingsvoertuig vasgevang en oorlede is.

Mediese dienste het alles in hul vermoë gedoen en soos een man saamgewerk om ‘n 25-jarige reservisbrandweerman van die Kaapse Wynland-brandweerdienste te red. Die man is egter op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Tientalle reddingswerkers, insluitend mediese en polisiebeamptes, het verslae en hartseer op die toneel gestaan en mekaar probeer troos.

Die ongeluk het skuins voor 15:00 op die Brandwachtpad naby die Karoo Botaniese Tuine net buite Worcester gebeur. Die voertuig het vermoedelik die pad verlaat, die bestuurder het beheer verloor en die voertuig het op sy dak beland.

Die oorledene het volgens Wayne Josias, senior bestuurder by die Kaapse Wynland-branweerdienste, die voertuig in opdrag van bestuur gaan volmaak by die Breedvallei-brandweerstasie en op pad terug verongeluk.

Hy was die enigste insittende in die voertuig.

“Die oorsaak van die ongeluk is op hierdie stadium onbekend en onderhewe aan die SAPD se ondersoek,” het Josias gesê.

“Ons waardeer die broederskap wat die ander departemente soos onder meer die mediese dienste en polisie aan ons betoon het vandag. Dit is vir ons hartseer om ’n man te verloor. Dit is erger om ’n man te verloor as ons voertuie of toerusting – dit kan vervang word, maar ons reddingswerkers nie. En ons manne is baie belangrik vir ons,” het hy hartseer bygevoeg.

Josias het sy medelye en simpatie aan die oorledene se familie uitgespreek en gesê: “Hulle is in ons gebede. Ons is jammer vir wat gebeur het. Ons het ’n goeie vegter verloor.” 

*Die oorledene se identiteit kan nog nie bekend gemaak word nie, omdat sy naaste familie nog nie almal in kennis gestel is nie. 

 

You need to be Logged In to leave a comment.