Erfenisdag is om die draai en hoewel dit onder Suid-Afrikaners as braaidag bekend is, gaan die dag oor veel meer as om net ‘n tjoppie op die kole te gooi.
Op dié dag word die land se ryke kultuurerfenis deur Suid-Afrikaners gevier – ook hier op eie bodem.
Die Worcester-museum nooi inwoners wat ‘n goeie storie kan vertel, om deel van hul program op die dag te wees.
“Ons soek na daardie stories wat die luisteraar gevange hou met ‘n beloofde klimaks wat mense laat skater of na hul asems laat snak,” sê Charles Beukes, die voorsitter van die Vriende van Worcester-museum. “Storievertel is een van die oudste kunste en op Erfenisdag, wat op 24 September gevier word, bied die DAK Netwerk SA storievertellers die kans om hul ding by Worcester-museum te doen. Dis dalk net wat hulle nodig het om ‘n sprong te maak na radio of televisie of selfs ‘n uitnodiging om by een van ons kunstefeeste op te tree.”
Belangstellendes kan Beukes by 079 837 2540 of David Jantjies by 082 697 2777 bel om deel te neem.
Op dié dag bied die museum van 10:00 tot 17:00 benewens die storievertellery ook jeugkuns, musiek en digkuns aan. Die dag se tema is “Living Legacies: Stories that shaped Worcester”.
Toegang is gratis vir leerders en pensioentrekkers.
Montagu Museum:
Ook in die Langeberg word planne gemaak om die dag te vier.
Die Montagu-museum, in samewerking met die Langeberg-munisipaliteit en die Montagu-Ashton-toerismevereniging, nooi inwoners na ‘n erfenisdagviering vol geur, ritme en kultuur van 10:00 tot 13:00. ‘n Rits stalletjies met watertand disse gaan beskikbaar wees en verskeie musiek- en ander opvoerings word aangebied.
Frazer Barry en Tribal Echo Trio tree as gaskunstenaars op.
Kontak Inge Cook by 023 626 8214 of [email protected] vir nog inligting.





