Hoërskool Breërivier, Worcester Sekondêr, De Kruine Sekondêr van Touwsrivier, Hoërskool Goudini van Rawsonville en Van Cutsem Gekombineerde Skool van De Doorns – ’n lang lys skole wat met indrukwekkende verbeterings in hul matriekslaagsyfer spog.
Die Breedevallei se klas van 2015 het ook ’n gesamentlike slaagsyfer van 87,6% behaal. Dit is vir die agste jaar agtereenvolgens beter as die provinsiale slaagsyfer en selfs dié van die Kaapse Wynland-onderwysdistrik.
Dr. Brian Wilson, hoof van kurrikulum by die onderwysdistrik, sê die departement is veral beïndruk met De Kruine en Goudini se verbetering, en Van Cutsem wat ten spyte van arbeidsonrus in De Doorns, sy slaagsyfer noemenswaardig opgestoot het.
Vier skole het ’n 100%-slaagsyfer – die De la Batskool, HTS Drostdy, Langerugskool wat verlede jaar gestig is en Hoërskool Hexvallei, terwyl Hoërskool Montana en Worcester Gimnasium baie na daaraan gekom het.
Nog buitengewone prestasies is Worcester Gimnasium se agt leerders wat almal met sewe vak-A’s geslaag het: Lana de Necker, Carla Dippenaar, Marike Fowler, Niki Kloppers, Tameron-Lee Olsen, Rozelle Pienaar, Pieter Theron en Nicola Jansen van Vuuren. Nicola het vir al sewe haar vakke meer as 90% gekry. By HTS Drostdy en die De la Batskool het alle matrieks gekwalifiseer vir tersiêre studies.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys het ook gister aangekondig dat Daniel Dimitri Sakati van die Pionierskool ’n provinsiale toekenning kry vir uitnemendheid ten spyte van verskeie leerversperrings, HTS Drostdy vir ’n tegniese hoërskool wat die afgelope drie jaar uitnemend presteer het, De Kruine vir een van die provinsie se skole wat die meeste verbeter het en Hoërskool Hexvallei vir een van die skole wat die B-graad-toelatings die meeste vermeerder het.
Volgens Patrick Aronse, skoolhoof van De Kruine Sekondêr, is die skool se prestasie te danke aan die ondersteuning van die gemeenskap in geheel. “Die ondersteuning van onderwysers, ouers en die gebede van die breë gemeenskap het ons leerders gemotiveer om hard te werk en hul beste te doen, en hulle het duidelik die vrugte daarvan gepluk.”
Hy verduidelik dat die skool ’n winter- en lenteskool, sowel as ’n naweekkamp gehou het om leerders te help. Die skool het ook sowat 20 leerders wat in moeilike omstandighede bly, in die skool se koshuis gehuisves gedurende die eindeksamen.
Die hoof van Hoërskool Goudini, Bert Hanekom, skryf die skool se sukses toe aan die samewerking en harde werk van sowel die leerders as die onderwysers. “Ons het gereeld met die leerders vergader en hulle gemotiveer. Nog ’n groot deel van ons sukses was dat ons ou vraestelle uitgewerk het en eksamenbeplanning gedoen het met die leerders.”
Amadeus Neethling, skoolhoof van Worcester Sekondêr, meen die ondersteuning van die matriekonderwysers, ouers en die Kaapse Wynland-onderwysdistrik se mentorprogram het grotendeels bygedra dat die skool 2014 se daling in die slaagsyfer weer kon omswaai. “Ons het twee ondersteuningsprogramme gehad waar ons die risikovakke soos wiskunde en besigheidstudie aangespreek het. Die programme was in die vorm van ’n winterskool gedurende die laaste week van die Junie-skoolvakansie en ’n drie dae lange kamp in die vorm van ’n lenteskool,” vertel Neethling.
Philip Cook, hoof van die De la Batskool, meen die antwoord op wat die skool se sukses teweeg gebring het is eenvoudig: “Die personeel en leerders se toewyding.”
Langerugskool, wat verlede jaar gestig is, se skoolhoof, Cecile de Villiers, het gesê die personeel is baie trots op hul eerste matriekklas. “Ek dink die feit dat dit die eerste matrieks is het die leerders soveel meer gemotiveer om ’n goeie standaard te stel en hulle het beslis ’n hoë standaard gestel vir die volgende groep.”