Die verdagte in die skietvoorval waarin ‘n man vroeër vandag in Kronestraat in Worcester se nywerheidsgebied doodgeskiet is, sal eers in aanhouding bly.
Volgens die man se prokureur, Sakkie Krouwkam, sal sy kliënt Maandag in die hof op Worcester aansoek om borgtog doen. Sy identiteit mag nie bekendgemaak word voordat hy nie in die hof verskyn het nie.
Die slagoffer is intussen geïdentifiseer as Johannes Jacobs (27).
Intussen het die eienaar van die onderneming Nu Trend-vervaardigers in Kronestraat, Francois du Toit, laat Vrydag in ‘n verklaring aan Standard gesê die persoon wat die oggend in hegtenis geneem is na die skietvoorval, is slegs ‘n werknemer van ‘n onderneming wat subkontrakteurwerk vir sy besigheid (Nu Trend) gedoen het en is hy nie ‘n werknemer of geaffilieër met Nu Trend self nie.
Omstanders wat op die toneel was, het gesê hulle het twee skote gehoor en gesien die slagoffer lê in die straat.
Daar word vermoed die slagoffer was besig om in ‘n vullisdrom te krap voordat hy geskiet is, hoewel die presiese omstandighede rondom die voorval nog nie deur die polisie bevestig is nie.
*Die oorspronklike berig is opgedateer om verdere inligting by te voeg.