Cameron maak debuut vir Blitsbokke

“Ek sal die geleentheid met albei hande aangryp. Ek was maar met ’n rugbybal in my hand gebore en het van jongs af rugby begin speel,” sê Cameron opgewonde oor die geleentheid.


Die kranige rugbyspeler van Ceres, Cameron Hufke (21), is onlangs in die Springbok Sewesrugbyspan wat aan die Safari Sewestoernooi in Kenia deelneem opgeneem.

Cameron

Cameron Hufke.

“Ek sal die geleentheid met albei hande aangryp. Ek was maar met ’n rugbybal in my hand gebore en het van jongs af rugby begin speel,” sê Cameron opgewonde oor die geleentheid.

Cameron woon tans in Pretoria waar hy vir die Blou Bulle speel. Hy het in sy tuisdorp vir Bella Vista-rugbyklub gespeel en in 2016 is hy die Suid-Afrikaanse skolerugbyspan opgeneem. In 2015 en 2016 het hy Cravenweek gespeel. Hy is ook vir die afgelope twee jaar in die Bulle se Curriebeker-span.

“My familie is my grootste ondersteuners en motiveer my die meeste. My ouers en Marco “Tupac” Matthys ondersteun my altyd,” sê hy.

Cameron se ma, Kathy, sê sy het ’n paar herinneringe van Cameron toe hy jonger was. “Sy rolmodel was Breyton ‘Pontos’ (Breyton Paulse) soos hy hom genoem het. Hy speel al van jongs af ‘touch’-rugby op die veld,” sê sy.

“Hy is baie nederig en vriendelik. Hy het baie vriende en is geneig om, wanneer hy terug kom Ceres toe, saam met die kinders ‘touchies’ op die veld te speel. Hy is toegewyd en werk hard vir wat hy wil hê in die lewe,” sê sy trots.

Angelo Davids is een van die bekendes wat ook in die groep opgeneem is. ’n Oud-leerder van HTS Drostdy, Christi Grobbelaar, maak ook sy debuut in die span.

Assistent afrigter, Renfred Dazel, is verantwoordelik vir die span op hul toer. Die span bestaan uit Christi Grobbelaar, Angelo Davids, Impi Visser, Luyanda Mngadi, James Murphy, Cameron Hufke, Andrew Kota, Selvyn Davids, Darren Adonis, Cecil Afrika, Siviwe Soyizwapi (kaptein) en Stedman Gans.

You need to be Logged In to leave a comment.