Verbeeldinglose krieket was die groot oorsaak van Wolseley se vernederende nederlaag met ’n allemintige 179 lopies in sy openingswedstryd in die 50-boulbeurt-promosieliga teen Ceres.
Wolseley se rampspoedige dag het reeds begin toe hy die loot gewen en om ’n onverklaarbare rede besluit het om Ceres op ’n mak kolfblad en in bloedige hitte eerste te laat kolf.
Ceres het die besluit op sy tuisveld met ope arms ontvang en Wolseley duur daarvoor laat betaal.
Ceres was van meet af aan aanvallend en het gou paniek onder Wolseley se boulers gesaai terwyl die hitte ook sy tol begin eis het.
Eers het die flambojante Franklin Mars ’n aanskoulike beurt van 47 lopies van slegs 27 balle (7×4; 2×6) aangeteken, wat Ceres ’n goeie begin gegee het. ’n Mooi derdepaaltjievennootskap van 65 lopies tussen Mars en sy kaptein, Edwill Felix, het verdere momentum aan die beurt verleen.
Felix se ewe indrukwekkende beurt van 55 lopies (7×4; 2×6) van slegs 56 balle het verder tot Wolseley se ellende bygedra. Nog ’n 50-lopie-vennootskap om die vierde paaltjie tussen Felix en Sheralde Poole met 29 lopies (4×4; 2×6) en nog goeie bydraes deur Adian Abrahams 24 (1×4; 1×6) en 23 lopies (3×4) van Kyle Nasson het nog verdere sout in die reeds gewonde Wolseley gevryf.
Ceres het homself reeds teen middagete in ’n gunstige posisie geplaas deur ’n stewige 226 lopies in 43.5 boulbeurte aan te teken nadat hy op een tydstip op 184/4 in slegs 32 boulbeurte gestaan het toe Wolseley ’n mate van veggees begin toon het.
Wat die boulwerk betref, was Wilbur Pietersen met 10-2-28-3 in sy toegelate 10 boulbeurte baie ekonomies onder die omstandighede terwyl Jason Cyster (twee vir 39), Audifion Davids (twee vir 42) en Rashied September (een vir 24) moedig probeer het om die lopievloei te help beperk.
Wolseley, wat ná middagete begin kolf het met ’n koel briesie wat effens lafenis verleen het, het in ’n nagmerrie verander. Die besoekers het met verbeeldinglose kolfwerk liederlik in duie gestort en is binne 16.5 boulbeurte uitgeboender met slegs Rashied September (12) en Leonard Prins (10) wat dubbelsyfers behaal het.
Die glanspunt van die dag het aan die speler van die dag, Jo-Earn Zimri, behoort wat weer eens ’n pragtige vertoning met die bal gelewer het. Zimri was indrukwekkend; die goeie beheer en lyn en rigting wat hy gehandhaaf het, was onberispelik en die uitstaande kenmerk van sy boulwerk.
Sy broer Jowayne Zimri (een vir 23) en Aidrian Hanekom (twee vir nege in 3.5 boulbeurte) het goeie afrondingswerk gedoen en verdien ook vermelding oor hoe hulle hom ondersteun het.
Tyd vir herstel is bitter min vir Wolseley, want komende naweek speel hy gasheer vir die gedugte Coronations van Pniël, terwyl Ceres na Wellington reis vir sy stryd teen Bergrivier.
Op Wolseley het Ceres se naasbestes 118 vir 5 in 40 boulbeurte behaal en Wolseley met 117 in 30 boulbeurte met vyf paaltjies verslaan.