Liggaam gevind in Ceres
Die Ceres-polisie staan Sondag by van die liggaamsdele waarmee die verdagte glo in die dorp geloop het. Foto: Skermgreep

Die wrede moord op die Ceres-inwoner Piet Joubert (43) het vandeesweek skokgolwe deur dié Bolandse dorp gestuur.

Verskeie van Joubert se liggaamsdele is volgens inligting afgesny, en die res van sy oorskot is die afgelope Sondag (7 Desember) deur die polisie onder ’n brug gevind.

Volgens sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, is ’n 20-jarige man vir die wrede daad in hegtenis geneem, en hy sou na verwagting Dinsdag (9 Desember) in die landdroshof in Ceres op ’n moordaanklag verskyn.

Die Witzenberg-munisipaliteit, waaronder Ceres val, het Dinsdag in ’n verklaring sy skok oor die gruvoorval gedeel.

Hoewel die munisipaliteit nie die slagoffer identifiseer nie, is hy op sosiale media en in ander mediaberigte as Piet Joubert (43) geïdentifiseer.

“Munisipale wetstoepassingsbeamptes is [Sondag] verwittig oor ’n man wat in die dorp rondgeloop het met wat na bewering soos menslike oorskot in sy besit gelyk het.

“Die wetstoepassers het onmiddellik gereageer en die polisie in kennis gestel. Die polisie is na die toneel ontbied en die verdagte in hegtenis geneem. ’n Volledige ondersoek is begin,” lui die munisipaliteit se verklaring.

“Die res van die slagoffer se oorskot is later by ’n tweede ligging gevind wat deur die beweerde oortreder uitgewys is,” het die munisipaliteit verder gesê.

Die munisipaliteit sê hierdie “sinnelose en afgryslike daad” het die Ceres-gemeenskap in rou gedompel.

“Ons is absoluut geskok oor hierdie vlak van geweld. Ons innige meegevoel gaan aan die slagoffer se familie in hierdie verwoestende tyd.”

Die Witzenberg-munisipaliteit het intussen ’n beroep op die gemeenskap gedoen om kalm te bly en die polisie die ruimte te gee om hul ondersoek af te handel.

Inwoners word aangemoedig om enige inligting wat wetstoepassers kan help, aan te meld.

’n Ceres-inwoner het Dinsdag in ’n Facebook-inskrywing gepleit dat die munisipaliteit die riete moet afsny wat glo die brug waar Joubert se oorskot gevind is, toegroei.

“Dis nou ’n ideale plek vir booswigte om weg te kruip. Onskuldige mense wat daar verbyloop, word aangeval en beroof. So jammer vir die jong man wat sy lewe op so ’n wrede manier moes verloor. Baie sterkte aan sy naasbestaandes en vriende,” lui die inwoner se plasing.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Standard E-Edition 15 January 2026
    Standard E-Edition 15 January 2026

Gift this article