Hoërskool Charlie Hofmeyr se topmatriekleerder gaan vanjaar medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
Davinichia Douries sê sy was ’n bietjie bekommerd voor sy haar uitslae gekry het, maar nie bekommerd oor sy slaag of nie.
“Ek was meer bekommerd oor of my punte in die laag negentigs gaan wees, ek was bekommerd dat ek nie goed gaan doen nie. Maar dit het soos enige ander normale dag gevoel toe ons staan en wag vir ons uitslae en meneer wat die top presteerders uitroep, en ek was baie verlig toe ek my uitslae kry.”
Sy het ’n gemiddelde slaagsyfer van 96% verower in haar laaste skooleksamen.
Douries bieg dat sy aan die begin van die nasionale inperking, nes haar klasmaats, baie bekommerd was oor hoe die jaar sou uitloop.
“Daar was tye wat ’n mens gevoel het, hoekom doen ’n mens al hierdie werk, gaan dit ooit saak maak met hoe dinge gegaan het. Maar, soos enige ander jaar, het ek aan die begin van die skooljaar vir my ’n doelwitlys opgestel waarin ek geskryf het hoeveel punte ek vir elke vak wil kry, en dit is wat my gemotiveer het en gemotiveerd gehou het deur die jaar, en ook die eindeksamen,” verduidelik sy.
Vir nou het sy gemengde emosies oordat sy weg van die huis af gaan trek en haar persoonlike spasie met kamermaats moet deel.
Aan die ander kant sien sy baie uit na haar studies.
“Oor die jare was medies altyd my eerste keuse. Ek het wel ander opsies ook oorweeg en ondersoek, maar aan die einde van die dag het ek op medies besluit. Dit is baie interessant en mens gaan so baie dinge leer, ek geniet dit om dinge te leer. Veral met die wêreld wat so drasties verander, gaan daar baie nuwe mediese inligting wees vir my om te leer. Dit gaan ook ’n manier wees waarop ek ander mense sal kan help en ’n betekenisvolle bydrae kan maak.”