Suid-Afrika – en inderdaad die hele wêreld – bevind hom in een van die grootste krisisse nog.

Sommige kenners sê dit is die wêreld se grootste krisis sedert die Tweede Wêreldoorlog. Onderwys is in ’n situasie gedwing, die skole het skielik gesluit en die onverwagse “vakansie” is intussen tot 16 April verleng.

Ouers is tuis weens die noodtoestand en werk van die huis af. Terselfdertyd moet hulle toesig oor hul kinders hou. Baie ouers sit met die hande in die hare en weet nie wat om met hul kinders te doen nie. Skole en onderwysers wonder hoe hulle deur vanjaar se kurrikulum gaan kom.

Die waarheid is ons is nou in hierdie posisie en of ons nou gereed is daarvoor of nie, moet ons die beste van die situasie maak.

Ouers en onderwysers het nog altyd ’n probleem gehad dat kinders te veel tyd op hul selfone deurbring. Selfone gaan waarskynlik nou tot die onderwys se redding moet kom. Ek het byvoorbeeld WhatsApp-groepe met al my klasse op universiteit gevorm en ek is deel van daardie groepe. Opdragte word aan studente gegee en almal begin deelneem aan ’n WhatsApp-gesprek. Elke student se mening word aangeteken en later evalueer. Studente kan koerant-artikels en foto’s van die onderwerp en selfs stempos oplaai. Dit alles dra by tot ’n kreatiewe leerervaring.

In hierdie artikel fokus ek net op wat ek dink moontlik is vir skole. Omtrent elke leerder beskik oor ’n selfoon. Leerders op hoërskool en selfs so jonk as gr. 5 tot 7 is vaardig om hul eie WhatsApp-groepe te stig. Moedig hulle aan om dit te doen. Dit kan klasgroepe, maar ook kleiner studiegroepe, wees. Onderwysers kan leermateriaal vir leerders op WhatsApp laai, hulle kry ’n aantal dae om dit te lees en dan na aanleiding van ’n paar gerigte vrae daarop te reageer. Hulle kan mekaar se antwoorde bespreek en mekaar raad gee. So leer ons by mekaar. Maar hoe gemaak met die kleintjies in die grondslagfase? Hulle moet liefs van selfone af wegbly. Dit is hier waar die ouer sy rol as primêre ouer moet terugneem. Daar is baie aktiwiteite wat ouers met hul kinders kan doen. Begin met ’n sandput en klam sand op jou agterstoep, in die agterplaas of op die balkon. Onderbreek jou werk by die huis met gereelde pouses en skryf saam met jou kind en sy vinger in die klam sand. Teken, maak somme en “vee die swartbord skoon” en begin van voor af.

Noudat ons almal binne moet bly, is ’n opvoedkundige leesboek vir die ouer kinders of ’n lekker legkaart net die ding om die ure en dae om te kry.

Ouers moet by die kind se roetine hou. Op skool werk hulle twee ure en kry dan ’n pouse. Sinchroniseer jou werksdag met dié van jou kind. Wissel werk en speel af. Gaan stap soggens met die hond om die blok of vra jou kind om jou te help om die tuin nat te lei. Dit is vaardighede wat kinders eendag as volwassenes gaan nodig kry. Hopelik sal die gemeenskap opnuut die waarde van goeie onderwysers besef.

Onderwysers, aan die ander kant, moet besin oor hul manier van klasgee en nuwe onderrigmetodes ontwikkel.

You need to be Logged In to leave a comment.