De Kruine Sekondêr het onlangs gedurende die derde Worcester Amazing Race gewys dat hulle ’n gedugte span atlete het.
Dié skool het weggestap met die gesogte titel as wenner van die Worcester Amazing Race 2017.
Goeie kompetisie tussen die agt spanne het van die staanspoor af geheers.
Die spanne wat deelgeneem het, was Hoërskool Breërivier, Vusisizwe Sekondêr, Stellenzicht Sekondêr, De Kruine Sekondêr, Esselen Park Hostel, Worcester Community Band Jeug, Bring-it-on en Rainbow Jeug.
Die twee nuwelinge in die kompetisie, De Kruine van Touwsrivier en Stellenzicht van Stellenbosch, het gou-gou die pas aangegee deur die voortou te neem in die eerste twee punte op die roete.
Die plaaslike roete was uitdagend en vol verrassings vir die spanne. Syfervernuf, kleitrap om kleibakstene te maak en eksotiese danspassies was aan die orde van die dag in die eerste been van die wedloop.
Die wenner van die eerste been was Community Marching Band met die span van De Kruine op hul hakke en Hoërskool Breërivier derde.
In die tweede been is die spanne behoorlik getoets met ’n legkaart wat eers op Kerkplein aanmekaargesit moes word voor die wegspring. Hierna het die spanne die opdraande na die Worcester Mountain Mill-winkelsentrum aangedurf. Hier moes hulle weer hul vernuf met syfers en begrotings op die proef stel by Builders. Die uitdaging was om produkte en materiaal vir ’n klein kruietuin aan te koop met ’n beperkte begroting.
Die volgende uitdaging het kaartwerk en ’n bietjie trail running, wat by die Worcester-gholfbaan geëindig het, ingesluit. Op die gholfbaan is die setvernuf van die spanne op die proef gestel.
Ná dié sessie moes die spanne hul weg baan tot by die Karoo Nasionale Botaniese Tuin om sekere plantspesies uit te ken. Kaartwerk en vlugvoetigheid deur die netwerk van paadjies in die Karootuin het die spanne gelei tot elk van die vyf verskillende bedreigde plantspesies.
Die laaste deel van die wedloop het die spanne met die lang pad terug na Kerkplein geneem. Verkeerde interpretasie van die leidrade het talle hiér die wedloop gekos. Dié been is deur die vinnige span van Vusisizwe gewen.
Die organiseerders, Wildia Environmental Empowerment and Development, bedank elke borg, asook al die ondersteuners en deelnemers wat die Worcester Amazing Race 2017-kompetisie moontlik gemaak het.