De Wet Hugo vertel oor sy skryfwerk

Rick Marais van Standard het met die bekende jeugboekskrywer De Wet Hugo gesels. Hugo, ’n oud-Worcesteriet, het meer vertel oor sy lewe as ’n skrywer en oor sy boeke in die Grilgrypers-reeks.


Rick Marais van Standard het met die bekende jeugboekskrywer De Wet Hugo gesels. Hugo, ’n oud-Worcesteriet, het meer vertel oor sy lewe as ’n skrywer en oor sy boeke in die Grilgrypers-reeks.

Waarom skryf jy boeke vir die jeug? Ek was nog altyd baie lief vir kinders en as laerskoolonderwyser wat die meeste ure in my dag saam met 9- en 10-jariges deurbring, ken ek kinders natuurlik baie goed. Ek verstaan hul denkwyse en ek weet wat hulle opgewonde maak, laat bewe en laat lag. Natuurlik is ek baie gelukkig dat my alledaagse lewe sommer ook as navorsing vir my stories dien. En dan is dit ook net met geluk en seëninge dat my natuurlike skryfstyl en stories vir die ouer laerskoolkinders (9-13) geskik is.

Hoekom is jy so lief daarvoor om rillers vir die jongspan te skryf? Nadat ek die kinderboekskrywer Marianna Brandt se skryfkursus in 2010 voltooi het, het ek baie hard probeer om verskillende genres van kinder- en jeugboeke aan te pak, maar ek kon nooit verder as een hoofstuk vorder nie. Dis asof ek elke keer belangstelling in my eie storie verloor het. In 2015 het ek die advertensie vir Tafelberg Uitgewers se Skrik op die Lyf, ’n bundel bangmaakstories vir volwassenes, gesien en toe ek voor my rekenaar gaan sit en weereens probeer om aan die skryf te kom, het ek binne ’n paar uur twee kortverhale klaar geskryf, wat altwee toe die kortlys vir die bundel gemaak het. Een van hulle is uiteindelik daarin opgeneem en ek het toe besef dat rillers waarskynlik my genre is. Ek het nog altyd baie van rillers gehou – boeke en flieks. As tiener het ek begin om Stephen King se boeke te lees. En alhoewel ek vandag ’n wye verskeidenheid genres lees, is hy waarskynlik steeds my gunstelingskrywer. Plaaslik geniet ek Francois Bloemhof se rillers en Troula Goosen se raaiselstories. So dit was ’n maklike besluit om myself vir eers op die riller-genre toe te spits. As laerskoolonderwyser weet ek natuurlik ook dat grilboeke een van die gewildste genres onder hedendaagse kinders is, so dit het my uiteindelik aangespoor om ’n vollengte kinderboek wat hulle goed sal laat ril, aan te pak. (Ek werk by ’n Britse internasionale skool in Djedda, Saoedi-Arabië, en neem my klas een maal per week na die skoolbiblioteek waar ek moeite doen om hulle te help om boeke te vind wat handel oor enigiets – van mode tot sport – waarin elkeen van hulle ook al spesifiek belangstel. Vandag se kinders is bevoorreg om groot te word in ’n tydperk wanneer hulle maar kieskeurig kan wees oor wat hulle wil lees wanneer hulle vir ontspanning lees, want heerlike boeke is oor amper elke soort ding onder die son beskikbaar. Natuurlik bly RL Stine se Goosebumps-reeks ’n gunsteling en nadat ons elke week boeke gekies het, moet ek vir hulle uit een van sy boeke voorlees.

Waar kom jy aan al jou idees? Ek was met vakansie by my ouers op Kleinmond toe ek een middag gaan stap en die idee vir Grilgrypers 1 skielik by my opgekom het. Ek kon nie op een tipe monster of antagonis besluit om die kinders in die storie te terroriseer nie, dus het ek toe op ’n verskeidenheid monsters besluit – vandaar die pleknaam Vreesbaai. Die storie het natuurlik baie ontwikkel soos ek geskryf het. Met die volgende twee Grilgrypers het ek probeer om oorspronklike stories, wat glad nie aan die voriges herinner nie, te skep. Ek het egter nog heelwat meer heerlike, grillerige idees wat ek hoop ook toekomstige Grilgrypers sal word.

Het jy enige unieke “rituele” wat jy volg as jy aan ’n boek skryf? Ek beplan die eerste 75% van my storie hoofstuk vir hoofstuk voordat ek begin skryf. Deur die laaste kwart van die storie onbeplan te hou, gee ek myself die geleentheid om lekker kinkels aan die einde te kan skryf en terselfdertyd bly ek self ook geïnteresseerd in die storie. As ek van die begin af sou weet wat presies in die laaste ontknoping gaan gebeur, sal ek moontlik verveeld raak.

Hoe lank skryf jy aan ’n boek? Ek werk voltyds as onderwyser, dus skryf ek redelik lank aan ’n nuwe storie, maar as ek goeie en gedetailleerde beplanning en navorsing gedoen het, kan ek ’n manuskrip van ongeveer 25 000 woorde binne ’n maand klaar skryf.

Skryf jy in ’n stil vertrek of gee jy nie om as daar geraas is nie? Ek verkies gewis ’n stil vertrek, maar as ek reeds diep in my storie is en die spanningslyn sterk is, kan ek met geraas om my skryf. Ek moet erken dat ek wel al een of twee keer in my klaskamer, met die kinders rondom my, ’n hoofstuk klaar geskryf het. Gelukkig kan my skoolhoof nie Afrikaans lees nie, dus sal sy nie in hierdie onderhoud daarvan uitvind nie.

Wat inspireer jou in die skryfproses? Dit is my wens om boeke te skryf wat seuns en meisies ewe veel sal geniet en by hulle ’n groter liefde vir lees sal kweek. Ek dink dis wonderlik dat ander skrywers boeke skryf wat kwessies aanpak of onbewustelik lesse leer, maar met my boeke is die fokus gewis op vermaak en die bevordering van lees onder laerskoolkinders. Om eerlik te wees, ek dink glad nie aan simboliek of dieper betekenis as ek skryf nie. Maar ek dink dit is wonderlik hoe simboliek meestal onbewustelik by ’n storie of gedigte insluip. Dit laat natuurlik lekker gesprekke, veral in die klaskamer, toe.

Wat motiveer jou om aan te hou skryf? Elke positiewe boodskap en resensie wat ek tans ontvang, motiveer my om aan te hou skryf. Graffiti-boekwinkel in Pretoria het verlede week op Facebook aangekondig dat Grilgrypers 1: Die Vloek van Vreesbaai die nommer-twee-plek in sy tien topverkopers van kinderboeke vir Maart behaal het. Ek is ongelooflik dankbaar dat my eerste boek so goed ontvang word. Baie dankie aan almal wat my ondersteun.

Jy is ’n oud-Worcesteriet. Wat mis jy van Worcester? Die woord ‘oud-Worcesteriet’ het my nou die eerste keer laat besef dat ek soveel jare gelede al daar weg is, want in my hart voel ek steeds en sal ek ook altyd soos ’n Worcesteriet voel. Dis waar ek grootgeword en my laerskoolloopbaan – eers aan Worcester Voorbereidingskool en toe aan Worcester Primêre Skool – voltooi het. Ek het in die Paarl gematrikuleer en het daarna in Wellington en Stellenbosch studeer. Twee van my drie susters woon nog in Worcester, so ek maak darem elke keer wat ek in Suid-Afrika kom, ’n draai daar. Ek sal sê ek mis my gelukkige, sorgvrye kinderjare op ons plaas, Spes Bona – tussen Worcester en Villiersdorp – die meeste, maar ek het wonderlike herinneringe aan Worcester en die mense daar, wat my ewig sal bybly.

Het jy al iets oor Worcester of die Boland in jou boeke gebruik, soos byvoorbeeld die mooi berge? Worcester sal altyd my tuisdorp en ’n plek baie na aan my hart bly, dus is dit geen verrassing nie dat Miek in Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai vir Lisa vertel dat hy gereeld by sy oupa-hulle op ’n plaas tussen Worcester en Villiersdorp gaan kuier.

As jy wenke aan jong opkomende skrywers kon gee, wat sou jou topwenke wees?Maak seker jou storielyn is oorspronklik en baie sterk.Doen deeglike navorsing en beplan jou storie voordat jy begin skryf.  Maak seker dat die hele verhaal uit die oogpunt van jou hoofkarakter vertel word. Wys, in plaas van vertel, byvoorbeeld “Sy stamp haar voet” eerder as “Sy word kwaad”. Hou jou sinne kort en eenvoudig. Pasop vir die oormatige gebruik van clichés. Laai die VIVA (Virtuele Instituut vir Afrikaans) -toepassing op jou foon af vir hulp met spelling en sinonieme. Lees soveel as moontlik om by ander suksesvolle skrywers te leer.

You need to be Logged In to leave a comment.