Bekommerde ouers van die Overhex Primêre Skool buite Worcester het op Vrydag (17 Oktober) by die skool opgedaag op soek na antwoorde oor ‘n algemene werker se beweerde intimidasie van onderwysers.
Dié bom het gebars ná beweringe onlangs in die Sondag-koerant Rapport dat die skoolhoof, Laetitia Hendricks, kinders wat op ‘n kletsgroep lelik gepraat het, se monde met seepwater laat uitspoel het.
Dit het egter ‘n groter sweer laat oopbars, met beweringe dat ‘n algemene werker by die skool al jare lank verskeie van die personeellede terroriseer. Dié gedrag het glo al daartoe gelei dat ‘n onderwyseres te bang is om terug te keer skool toe en ‘n manspersoneellid ‘n klagte van aanranding teen die werker aangemeld het.
Van die ouers trek die koerantberig in twyfel en glo dit is deel van die boelie van personeellede.
Luidens die koerant het die briefskrywer die saak onder ‘n skuilnaam aangemeld.
Dié berig is op sosiale media beskryf as ‘n “smeerveldtog” teen die hoof.
Ingeligtes by die skool het egter beweer dat die hoof jare lank deur die betrokke werker geteister word en dat hy haar glo selfs een keer hard gestamp.
‘n Onderwyseres het aan Standard vertel dat sy vier jaar lank onder voortdurende spanning moes klasgee. Die werker het dit glo duidelik gemaak dat hy van die onderwyseres ontslae wil raak. Hy sou glo ure lank voor die klaskamer besig wees met onbenullige werk en het selfs video-opnames van haar gemaak.
Mense beweer dat die werker leerders in pouses sou uitvra oor wat in die klaskamers gebeur het en hul ouers dan kontak en aanhits om klagtes teen die onderwysers aan te meld. Hy het die kinders ook glo aangehits om [vals] beweringe teen onderwysers te maak.
“Ons was naderhand so bang om klas te gee, want ‘n mens weet nie wat word volgende teen ‘n mens gebruik nie,” het een van die personeellede gesê.
‘n Ouer het gesê dat dissipline by die skool hieronder ly omdat onderwysers te bang is om ferm op te tree omdat dit gebruik kan word om klagtes teen hulle aan te meld.
Die probleem is glo al herhaalde kere deur die korrekte kanale by die Wes-Kaapse onderwysdepartment (WKOD) aangemeld. Van die onderwysers en ouers kla dat hulle die heeltyd moet hoor “die proses is aan die gang”, maar dat niks “al jare lank” gebeur nie.
Die ouers wat by die skool opgedaag het, het die hoof ondersteun en ‘n petisie opgestel wat daarop aandring dat die boeliery deur die werker die hoof gebied moet word. Hulle het vrae gehad of die werker wel polisieklaring het om by ‘n skool te mag werk.
Hendricks, die skoolhoof, wou nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.
Verteenwoordigers van die WKOD het die skool besoek. ‘n Departementele woordvoerder, Millicent Merton, het bevestig dat die werker sedert 2017 by die skool werk en in ‘n permanente posisie is. Sy sê hulle het in November verlede jaar die eerste klagte teen die werker ontvang.
“Die werknemer is van wangedrag aangekla en ‘n tugproses is aan die gang. Hy het ‘n geskrewe opdrag ontvang dat hy by die distrikskantore moet aanmeld,” het sy gesê.
“Die WKOD, tesame met die departemente van justisie en maatskaplike ontwikkeling, is besig met ‘n proses om te verseker dat alle nuwe aanstellings deur ‘n keuringsproses gaan. Diegene wat reeds aangestel is en almal wat met kinders in aanraking kom, sal ook [eers] gekeur word en [dit sal] verseker word dat hul name nie op die nasionale register vir seksoortreders en die register vir kinderbeskerming verskyn nie. Dié proses is nog in aanloop.”


