Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) ondersoek ‘n voorval waarin die hoof van ‘n Worcesterse hoërskool glo “gewelddadig”, “intimiderend” en “onprofessioneel” teenoor ‘n onderwyser by dieselfde skool opgetree het.

Die skoolhoof van die betrokke skool het navrae in dié verband na die WKOD verwys.

Millicent Merton, ‘n woordvoerder vir die WKOD, het aan Standard Breederivier Gazette bevestig die departement weet van die voorval en dit word ondersoek.

Benewens ‘n polisieverklaring het die onderwyser ook die waarnemende departementshoof vir Afrikaans by die skool en verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), ook ‘n klagte oor die skoolhoof se beweerde wangedrag by die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor en die adjunk-direkteur van arbeidsverhoudinge, Marna Knoetze, ingedien. Hy het die voorval ook onder die aandag van Jacques Adams, Sadou se streeksekretaris, gebring.

Die onderwyser was ten tyde van die voorval in die skool se bestuur. Hy sê in die polisieverklaring die skoolhoof het sy hand gelig en wou hom klap en hy as onderwyser voel nou onveilig.

In ‘n skrywe aan Knoetze sê die klaer hy het op 26 Junie omstreeks 08:10 in die teenwoordigheid van ‘n senior personeellid sy besorgdheid oor bestuursbe­slui­te – wat geneem word sonder behoorlike kommunikasie of konsultasie met die res van die bestuursliggaam of die skoolbeheerliggaam (SBL) – teenoor die skoolhoof uitgespreek. Volgens hom het hy spesifiek verwys na die termyne van waarnemende departementshoofde waaroor on­dui­delikheid bestaan en teenstrydige inligting ontvang is. Hy sê hy het op ‘n beleefde en professionele wyse versoek om insae in die SBL-notule van 2024 te kry om sy argument met feite te staaf.

Volgens hom het die tweede senior personeellid dié versoek van die hand gewys en hom aangesê om ‘n skriftelike versoek aan die skoolbeheerliggaam te rig. “Die skoolhoof het daarna in ‘n woedeuitbarsting opgestaan, sy baadjie verwyder en my met fisieke geweld gedreig. Hy het aggressief na my beweeg, wat my genoop het om terug te tree uit vrees vir my veiligheid. Sy gedrag was uitermatig onprofessioneel, intimiderend en gewelddadig.”

Volgens hom het die tweede senior personeellid ingegryp deur die skoolhoof op sy naam te roep. “Ek het die situasie probeer dokumenteer deur my selfoon te gebruik om beeldmateriaal op te neem aangesien ek besef het dat moontlik geen bewys van die voorval andersins sou bestaan nie. Die skoolhoof het my uit die kantoor gejaag en my tot in die voorportaal agtervolg, waar hy my verder gedreig het met woorde van die aard ‘Kom uit, kom uit na buite, dan wys ek jou’.”

Die klaer sê hy is uiters bekommerd oor die kultuur van initimidasie en manipulering deur sekere lede van die bestuur. Volgens hom is dit duidelik ‘n gebrek aan deursigtigheid en aanspreeklikheid bestaan binne die skool se bestuursraamwerk en dat daar opgetree word op ‘n wyse wat afbreuk doen aan ‘n gesonde en veilige werksomgewing. Hy sê hy versoek ‘n onafhanklike ondersoek na die voorval, dat alle notules en verwante dokumente van die SBL vir ondersoek beskikbaar gestel word, dat stappe gedoen word om die veiligheid, integriteit en regte van personeel teen onregverdige behandeling en dreigemente te beskerm en dat gepaste tugstappe oorweeg word teen enige personeellid wat hom aan onprofessionele, intimiderende of gewelddadige optrede skuldig maak.

• Die skool se naam word nie genoem nie hangende die ondersoek. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.