Worcester United het derde in die Wes-Kaapse T20-uitspele geëindig.
Worcester United het die afgelope Sondag (13 Maart) na Nuweland, Kaapstad, opgeruk om die SWD-T20-kampioen, George, en die WP-T20-kampioen, WPKK, aan te durf om die kroon as die Wes-Kaap se beste T20-krieketspan te wen.
Worcester United is die verdedigende Boland-T20-kampioen.
Die wenner sou dan deurgaan na die nasionale kampioenskap in Pretoria in April vanjaar.
WPKK en George het Saterdag kragte gemeet, en WPKK het gewen.
United is Sondagoggend deur ligte reën begroet. Sy eerste wedstryd sou om 09:30 begin, maar kon eers kwart oor twaalf begin. Die 20 boulbeurte is tot sewe boulbeurte verkort.
United het die loot verloor en moes eerste kolf. United het heel goed gevaar en 65 lopies in sy toegelate sewe boulbeurte aangeteken. Xavier Visser het 18 lopies aanteken (10 balle met 1×4 en 1×6) en Christo Lukas ook 18 (agt balle; 1×4 en 1×6).
George het wankelrig begin en was ná 3.2 boulbeurte met sy telling op 38/3 effe in die moeilikheid. Spel is weer onderbreek deur wat skaars ’n reënbui was. George se kolfbeurt is toe verkort tot vyf boulbeurte en hy moes agt lopies van die oorblywende ses balle aanteken, wat hy wel reggekry en die wedstryd met sewe paaltjies gewen het.
In die tweede wedstryd het United weer die loot verloor en is hy deur WPKK gevra om eerste te kolf. United het stewig begin en het ná twee boulbeurte op 19/1 gestaan.
United het egter daarna paaltjies met reëlmaat verloor en was ná 11 boulbeurte op 73/6. Hy is uiteindelik almal vir slegs 89 lopies in die 16de boulbeurt uitgeboender.
Brendon Erasmus was al United-kolwer wat hond haaraf kon maak en het 22 goeie lopies van 23 balle met 1×6 aangeteken. WPKK was met sy telling op 48/2 ná agt boulbeurte stewig in beheer, maar het geen verdere paaltjies daarna verloor nie en die wedstryd op ’n drafstap met agt paaltjies gewen.
Hiermee is WPKK as die Wes-Kaapse T20-kampioen gekroon met United as die derde beste T20-krieketspan in die Wes-Kaap.
Buiten United se goeie T20-vertoning is hy tweede agter Maties in die Boland-krieket-premierliga se 50-boulbeurte-kompetisie terwyl sy tweede span en vrouespan hul titels gewen het. Dit was die klub se beste prestasies nog vir ’n krieketseisoen. Die klub het al sy spelers, afrigters en administrateurs gelukgewens met dié besondere prestasies.
Die klub het ook al sy borge, ondersteuners en medewerkers soos BVM, Worcester Standard, Kaapse Wynland-munisipaliteit, Boland-krieket en KSA (Krieket Suid Afrika) bedank.