Toustaners het deur die nag voor die trein geslaap om nie hul plek in die ry te verloor nie.

WORCESTER. – Ure lank, regdeur die nag, staan mense in ‘n lang ry in die hoop om by die Phelophepa-gesondheidstrein in Worcester gehelp te word. Die meeste van dié mense is bejaard of nie gesond nie. Dié lang rye wys hoe groot die behoefte aan basiese gesondheidsdienste is.

Die trein is ‘n mobiele kliniek wat deur die land reis om gesondheidsdienste te lewer. Dit is ‘n projek van Roche en Transnet, wat sedert 1994 hulp aan miljoene Suid-Afrikaners verskaf het. Die trein was van Maandag 15 September tot hierdie Donderdag, 2 Oktober, in Worcester.

Die aanvraag na die dienste hier was aansienlik groter as wat verwag is en het uitdagings meegebring.

Meer as 300 mense het vroeg Maandag­oggend (29 September) daar gesit en wag. Hulle sê hulle het reeds Sondag om 12:00 in die ry kom sit. Hulle het deur die nag met komberse om hulle op die grond, op kampstoele of op matrasse, wat van die huis af gebring is, by die Worcester-stasie geslaap om nie hul plek in die ry te verloor nie.

“Teen vanmiddag tweeuur, wanneer ons hoop om gehelp te word, sou ons al langer as 26 uur in hierdie ry wees,” het een van die vroue gesê.

Die groep het gekla dat daar geen ligte deur die nag was nie en hulle onveilig gevoel het omdat oproerige haweloses naby bly.

Toegang tot toiletgeriewe was glo beperk en hulle moes hul draaie in die bos gaan loop. Daar is ook nie ‘n plek naby waar iets gekoop kan word om te eet of te drink nie – en ook nie vullisdromme nie.

Die toustaners, wat meestal in die ry was om hul oë te laat toets, het gesê hulle wag jare lank al tevergeefs om dié dienste by die staatshospitaal te ontvang. “ ’n Bril kos duisende rande. Ons kry pensioen van slegs R2 000 per maand. Hoe op aarde moet ons ‘n bril bekostig? Ons hoop ons kan hier gehelp word,” het Patricia Goeieman gesê.

Haar man, Moos, het al ‘n beroerte gehad. Albei van hulle het deurnag in die ry gesit.

Lauren Uys-Rittzé van die kantoor van die onderburgemeester, Juben von Willingh, het gesê die trein het weens herskedulering vroeër opgedaag as wat beplan is.

“Dit het uitdagings meegebring wat ons probeer hanteer het soos dit opge­duik het,” het sy gesê. “Meer mense het opgedaag as wat ons verwag het. Ons het glad nie gedink dat mense oor naweke reeds sal opdaag en deur die nag voor die trein slaap nie. Ons gee in samewerking met ‘n groep organisasies elke dag vir diegene in die ry iets om te eet en te drink.

“Ons moes ook toegangsbeheer by die badkamer toepas, omdat die toeloop van mense veroorsaak het dat moeilik was om skoon te hou,” het sy verduidelik.

Die Phelophepa-trein het ook sy eie stel huisreëls waaraan voldoen moet word wanneer dit in ‘n dorp stilhou.

“Wanneer die trein weer hier aandoen, weet ons wat om te verwag en kan ons beter daarvoor voorberei,” het Uys-Rittzé gesê.

Die trein hanteer ongeveer 140 pasiënte per dag by die oogkliniek, 110 by tandheelkunde, 80 by die algehele gesondheidkliniek, tussen 40 en 50 mense by kankersifting en ‘n wisselende hoeveelheid mense wat sielkundige hulp nodig het.

Dit beteken tussen 400 en 500 mense per dag kry mediese hulp vir ‘n tydperk van drie weke.

You need to be Logged In to leave a comment.