Hoewel die huidige skolewet swyg oor die geslag- en rassesamestelling van beheerliggame, is dit wenslik om dit só saam te stel om die leerders se rassesamestelling van die betrokke skool te verteenwoordig.
Dit is een van die faktore om in gedagte te hou wanneer skole eersdaags sy verpligte beheerliggaamverkiesings hou.
Dit maak tog nie sin om byvoorbeeld oorheersend mans op ’n meisieskool se beheerliggaam te hê nie.
’n Gemengde en veelrassige skool móét ’n gemengde beheerliggaam hê sodat die groter belang, die skool, vooropgestel word. Skole moet wegbeweeg van slegs ’n sekere segment uit die skoolgemeenskap wat op ’n beheerliggaam dien. Dit geld rassesamestellings óf ouers uit ’n sekere ekonomiese stand.
Te dikwels sien jy dat beheerliggaamverkiesings soms gemanipuleer word dat sekere mense daarop dien wat nie die skool se belange uitbou nie.
Ná drie jaar diens op ’n beheerliggaam moet ouers trots kan terugkyk na hul belegging in die skool om dit ’n beter plek te maak vir die volgende groep leerders.
As almal hul rol in die beheerliggaam verstaan, gewapen met die wetgewing en beleide, sal die skool van krag tot krag gaan.
Belese en verligte voorsitters sal hul rol so kan bestuur dat elke vergadering se uitdagings taktvol benader en bestuur word.
Kundigheid is baie belangrik. So kan ’n ingenieur op ’n beheerliggaam byvoorbeeld raad gee wanneer ’n nuwe saal gebou word of ’n finansiële raadgewer kan die skool tot finansiële selfstandigheid lei.
Plaas- of landelike skole kan boere se kundigheid gebruik om die hoof en beheerliggaam van raad en daad te voorsien. Hoofde en onderwysers op die beheerliggaam se kundigheid is soms beperk tot die leerplan en leerders se akademiese behoeftes. Kundige mense op die beheerliggaam kan ’n skool na ’n beter vlak werkverrigting én prestasie neem.
Ouers, stel julle in Maart 2018 verkiesbaar by jul kinders se skool. Dit is tog waar kinders aan opvoeders toevertrou word en waar ouers se kundigheid die skool kan ophef.
Onderwys in Suid-Afrika ervaar tans geweldige uitdagings en ouers se insette op die beheerliggaam kan nie ligtelik opgeneem word nie.
. Edward Smit is ’n niepraktiserende onderwyser en vryskutjoernalis op verskeie mediaplatforms.