Worcesteriete praat nou nog oor die gasontploffing wat op 10 Julie die dorp geruk het. Klink my dis ’n gebeurtenis wat in ons mense se heugenis gaan vassteek.
Mense vertel graag wat hulle besig was om te doen en wat hulle gedink het die oorsaak van die harde slag was. Ook hoeveel erger die lewensverlies, beserings en skade kon gewees het.
Talle het gedink dis ’n bom of ’n gebou met chemikalieë wat tot die ontploffing gelei het. Inwoners so wyd uitmekaar soos Fairway Heights en Hexpark vertel van vensters en deure wat gerammel het.
Die oorgrote meerderheid van bespiegeling draai om die plek waar die vragmotor ontplof het. Wat as die trok voor die vulstasie gestaan het? Hoeveel erger as dit voor die wynbotteleringsaanleg gebeur het? Sê maar dit het ’n bietjie later voor die laerskool ontplof?
Mense sien die tyd wat dit gebeur het as genade van Bo. Indien die ontploffing 60 tot 90 minute later plaasgevind het, sou mense beslis gesterf het of ernstig beseer gewees het.
Menings oor wat presies die ontploffing veroorsaak het, word soos konfetti by ’n troue rondgegooi. Ek sou graag elkeen wat met gesag oor die voorval praat in ’n saal byeen wil bring. Dit kan ’n interessante affêre wees.
Een pluspunt is dat mense nou baie meer veiligheidsbewus is, veral rondom gas. Ons het verlede week ’n stoof gekoop wat met gas en elektrisiteit werk.
“Hoe beskerm julle die gasbottel?” is byna die eerste vraag wat opduik. En dan wonder mense of die staalomhulsel dig en dik genoeg is om skade te beperk.
Hopelik, ja, is my antwoord.
Kom ons los dit daar en bring liewer hulde aan die vrou. Dit is immers môre Nasionale Vrouedag.
Ons wil alle vroue salueer: getroudes, die ongehude vroue, die geskeides en die weduwees. Ek bewonder elkeen van julle.
Ek het reeds op 8 Augustus 2013 in die rubriek geskryf oor hoe die rol van die vrou deur die jare verander het.
Deesdae staan die meeste vroue in ’n beroep. Hulle moet letterlik en figuurlik die pot aan die kook hou.
Die tye toe ’n getroude vrou net ’n tuisversorger was, is verby. Vandag bring ons veral hulde aan vroue wat in ’n beroep staan, maar steeds die rol van huisvrou ook moet vervul. Hulle moet sorg dat die huishouding se ratte geolie is, kos gekook word, die kinders se skoolklere reg en die huis aan die kant is.
Matriekleerders se eksamen begin op 19 Augustus en die nasionale eindeksamen op 16 Oktober. In die meeste huishoudings moet die ma sorg dat die kind oor hierdie laaste hindernis kom.
Die ma is gewoonlik ook die trooster wanneer die kind heimwee kry oor sy laaste sportdag, die laaste keer wat die skooltas gepak moet word en die laaste uittrek van die skooluniform.
Vroue is die hoeksteen waarop ’n huis se waardes gebou word, wat onbaatsugtig opoffer, wat sonder erkenning die gom is waaraan die gesinslede vasklou.