Ons land, net soos die wêreld, beleef ’n ongekende ekonomiese insinking. Ons ervaar ook eerstehands wat dit beteken om nie algehele vryheid van beweging te hê nie.
Eers het sommige van ons die hele storie as ’n grap ervaar. Sosiale media het egter toegesien dat ons mense uiteindelik die erns van die saak begin insien het. Ons kan nie meer mense sommer net omhels nie en moet ’n afstand van mekaar af hou.
Die joviale atmosfeer wat oor naweke geheers het, is weg. Dit bring ’n gevoel van verslaentheid mee. Mense begin depressie ontwikkel en is bang vir die dag van môre.
Tydens die Spaanse griep van dekades gelede het dieselfde ding gebeur. Dieselfde paranoia was teenwoordig. Almal het gevrees vir die verskriklike virus wat mense wêreldwyd afmaai. Enigeen kon volgende wees. Die dice kon op enigeen van die familie val.
Die killer-virus het nie uitgesoek nie. By hom was almal gelyk. Die wêreld wat eens opgedeel was in kontinente, was globaal deur die gemeenskaplike vyand aanmekaargelas.
Net soos met die Spaanse griep ondervind ons ook die wreedheid van die dood en die omverwerping van planne en ideale. Ons weet nie wat voorlê in die maande en jare hierna nie. Al wat ons weet, is dat dinge nooit weer dieselfde sal wees nie. Mense gaan hul werk verloor. Voedsel gaan duurder en haas onbekombaar word.
Profesieë word verkondig dat hierdie net die begin van ons smarte op hierdie ondermaanse is. Ons hoor van ’n microchip wat ingeplant gaan word. Sosiale media gons oor die 5G-torings wat oraloor opgerig word – ’n nuutjie in tegnologie wat die internet en ons fone blitsvinnig gaan maak. Dit bring allerhande voortreflikhede na vore, maar dinge wat vir ons in hierdie millennium nog onbekend is.
Wat egter soos ’n paal bo water staan, is ons jongmense se rol en plek in die snelveranderende wêreld. Dié wie se ouers dit kan bekostig, gaan hulle universiteit of kollege toe stuur. Die ander verdwyn in die massas werkloses, sonder toekoms of hoop. Sommige studente het begin moed opgee en sien nie lig aan die einde van die tonnel nie. Dis hier waar wilskrag die deurslag sal gee.
Ons is jammer vir die een wat deel van die werkloosheidstatistieke gaan word.
My boodskap vir diesulkes: My kind, dit hang net van jou af hoe jou môre en oormôre gaan wees. Jou ouers is bereid om jou by te staan. Dis tyd dat jy jou waardering vir hul opoffering deur die jare begin toon. Hulle het deur wind en weer vir jou opgestaan. Nie omdat hulle dit as hul plig beskou het nie, maar uit liefde. Jy sal moet opstaan uit sak en as; begin bydra tot die huishouding; jou klein deeltjie doen en help met die geldsake.
Almal voel die resessie aan hul bas – so ook jóú ouers. Hulle moet kos op die tafel sit en jou ook voorsien van toiletware, data en klere. Die geld moet êrens vandaan kom. Hul reeds oorlaaide begroting kan dit nie meer doen nie.
Die verweer is natuurlik dat werk skaars is. Ons stry nie daaroor nie; dit is ’n werklikheid. Die tyd het egter aangebreek dat jy jou moue moet oprol en vir jouself begin voorsien. Laat die gedagte van duisende rande per maand verdien heeltemal uit jou woordeskat verban word. Jy sal nou met die minste tevrede moet wees. Jou mindset moet begin verander. Kyk rond in jou omgewing. Waar kan jy jou dienste beskikbaar stel? Daardie onontginde talent van jou wat net wag om gebore te word, roep na vervulling. Soms moet ’n mens eers rock bottom slaan voor jy kan kom waar jy moet of wil wees. Teleurstelling, hartseer, trauma en ander dwarsklappe van die lewe is soms die stepping stones wat lei tot jou droom.
Daar sal altyd tuine wees wat aandag nodig het. Daar sal altyd oumense wees wat ’n handjie nodig het met een of ander takie. Geboue word nog elke dag opgerig of gerestoureer. Plekke het nog altyd kelners nodig. Die hairdresser het nog altyd shampoogirls nodig, want vroue wil nog altyd op hul beste lyk. Daar sal altyd ’n vraag na arbeiders wees. Onthou, alle suksesvolle mense het eers op die onderste sport van die leer begin.
Nou is die tyd om buite die boks te dink. Die wêreld van die entrepreneur lê oop. Waar lê watter mark braak? Watter dienste in die gemeenskap kan van jou gebruik maak? Hierdie is vrae wat jy jouself moet afvra.
As jy met belangstelling rondom jou kyk, sal jy sien dat mense oraloor ’n sekere diens benodig, maak nie saak in watter toestand die land se ekonomie is nie. Begin innoverend dink. Maak jou oë en ore oop. Kyk en luister. Lees en doen navorsing. Watter bestaande diens kan jy verbeter? Gesels met suksesvolle mense. Los eers die eindelose ge-chat met vriende. Wees gefokus. Jy staan nou alleen. Jou maats het miskien geslaag. Dit was hul beurt. Van jou maats het miskien ook nie geslaag nie. Dis nie die einde van die wêreld nie. As ’n mens geval het, stof jy jou af en staan op. Dis nie die ou wat nooit val wat die wenner is nie – dis die een wat val en weer opstaan. Dit maak ’n mens sterker. Hou net moed. Alles is nie verlore nie. Elke einde voorspel ’n nuwe begin.
Laastens, maar nie die minste nie: gaan weer kerk toe. Onthou as ’n mens nie aan iets geanker (in hierdie geval godsdiens) is nie, val jy vir enigiets. Sterkte. Onthou, jy hou die toekoms in jou eie hande. – Frances Frans is ’n afgetrede onderwyseres.