Gemoedere het die afgelope Sondag buite die De la Bat-swembad hoog geloop toe hordes omgekrapte mense amper vier uur moes wag voordat hulle kon ingaan.
Standard het navrae aan die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gerig om meer klarigheid oor die kwessie te kry.
Volgens die BVM se woordvoerder, JP Myburg, neem die munisipaliteit kennis van die kommer wat veral ouers uitgespreek het rakende die gebruik van en toeganklikheid van openbare swembaddens in die omgewing.
De la Bat-swembad
Volgens Myburg is die situasie rakende De La Bat-swembad op Saterdag en Sondag (8 en 9 Januarie 2022) as volg:
“Alle werkers was betyds by hul onderskeie werkplekke. Die swembadtye is Maandae tot Saterdae van 10:00 tot 18:00 en Sondae van 12:00 tot 18:00. Ingevolge Covid-19-regulasies was die terrein reeds vol en hordes mense was buite in rye om hul beurt af te wag. Ons werkers was om 14:30 verplig om die swembad te sluit en geen mense verder toe te laat nie. Die besluit is in samewerking met die SAPD, veiligheidsdienste en ons wetstoepassingsbeamptes geneem,” verduidelik Myburg.
Sondag teen 11:00 was die rye buite die swembad reeds oorvol nog voordat dit kon open.
“Die hulp van die polisie, veiligheidsbeamptes en wetstoepassers is weer ingeroep. ’n Kaptein van die plaaslike polisie het met die hulp van ander polisiebeamptes alles in hul vermoë gedoen om orde te probeer skep, maar sonder sukses. Aangesien orde nie herstel kon word nie, tesame met die gepaardgaande veiligheidsrisiko, is die besluit geneem om die swembad summier vir die dag te sluit,” sê Myburg.
Hy sê die BVM doen alles in sy vermoë om toe te sien dat openbare ruimtes veilig en in die regte toestand vir optimale gebruik en genot deur almal is. Die BVM rig ’n vriendelike versoek aan besoekers om ag te slaan op die reëls om sodoende veilige en genotvolle gebruik van openbare swembaddens te verseker – veral in die konteks van die Covid-19-pandemie.
Zwelethemba-swembad
Volgens Myburg is die BVM ook verantwoordelik vir die beheer en bestuur van die Zwelethemba-swembad.
“Ongelukkig is die swembad nog nie deur die kontrakteurs aan die munisipaliteit oorgedra nie. ’n Volledige verslag van die projekbestuurder rakende die aangeleentheid sal binnekort uitgereik word.
“Mense se veiligheid is en bly ons hoogste voorkeur in dié verband. ’n Openingsdatum sal eersdaags gefinaliseer word sodra alle strukture afgeteken en goedgekeur is. Ons sal binnekort meer inligting oor hierdie projek bekend maak.”
Greystraat-swembad
Nog ’n kwelpunt vir inwoners is die feit dat die Greystraat-swembad meer toe as oop is.
Myburg sê die rede vir die sluiting van die swembad op 28 Desember was dat die swembadwater begin verkleur het nadat ’n onderdeel van die pomp ingegee het.
Hy voer aan aangesien vervaardigers wat dié onderdeel kan voorsien, gedurende daardie tyd van die jaar gesluit was, kon dit nie betyds aangekoop word om die pomp te herstel nie.
“Dit is intussen verkry en ons hoop om die Greystraat-swembad teen Woensdag (12 Januarie 2022) vir die publiek te open.
“Sodra die ander swembaddens weer open, sal ons dit ook kommunikeer.”
Hy sê dit sal ook die druk in die onderskeie gebiede verlig indien meer as een fasiliteit beskikbaar is, en voeg by dat inwoners die BVM se sosialemediakanale moet dophou vir enige verwikkelinge in dié verband.
“Ons vra om verskoning vir die ongerief. Wees asseblief versigtig om in te groot groepe byeen te kom en volg altyd die amptelike Covid-19-protokol.
“Ons is veiliger as ons saamwerk en saamstaan.”