Dít het hulle gewis nie ondergekry nie

Twee oud-leerders van die Hoërskool Waveren in Tulbagh het onlangs in die skoolgemeenskap teruggeploeg.


Twee oud-leerders van die Hoërskool Waveren in Tulbagh het onlangs in die skoolgemeenskap teruggeploeg.

Laurenzio Cupido, top-kandidaat van Hoërskool Waveren in Tulbagh, het onlangs die geleentheid gehad om sy suksesverhaal aan die 2021-matrikulante te vertel.

Hy het 73,6% in die 2020- Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen behaal – in die moeilikste jaar wat alle matrikulante moes deurmaak.

Sy storie het só begin:

“My naam is Laurenzio Cupido. Ek was Waveren se top-presteerder in 2020. Graad 12 was weens Covid-19 ’n baie moeilike jaar vir my. Dit was ’n groot aanpassing, maar ek moes vinnig na ’n hoër rat oorskakel, want dit was die nuwe lewe waaraan almal gewoond moes raak. Die pandemie het al my matriek-planne omvergegooi, maar dit het my nie ondergekry nie.

“Ek het my aan my skoolwerk toegewy. Ek het party dae gevoel ek wil opgee, maar my ouers het my die nodige motivering gegee en gesê ‘as jy hard werk, sal jy die vrugte daarvan pluk’, en ek het.

“Soos Nelson Mandela gesê het: ‘ ’n Wenner is ’n dromer wat nooit opgee nie’,” het hy vertel.

Fred Arendse, nog ’n oud-leerder van die skool, gaan uit sy pad om leerders wat goed presteer, finansieel te ondersteun. Sy finansiële hulp is hoofsaaklik gemik op die matrikulant wat die beste in die Nasionale Seniorsertifikaateksamen vaar. Fred self het by sy alma mater gewys dat hy oor sterk leierseienskappe beskik en was onder andere voorsitter van die leerderraad asook die hoofseun van Hoërskool Waveren.

Ná matriek was die mynwese sy belangstelling en het hy met sy leierseienskappe aanbeweeg tot hy sy eie maatskappy, die SSC-groep, in 2005 begin het.

Fred het die SSC-groep in sy motorhuis begin en die onderneming van niks tot ’n multimiljoenrandse onderneming gelei.

Hy het ’n passie vir gemeenskapsbetrokkenheid en is voorsitter van Peace and Prosperity Foundation, ’n organisasie sonder winsbejag, en lid van die Swartbemagtigingsforum.

Fred is al langer as 26 jaar by die mynwese betrokke.

Fred het die matrikulante uitgedaag – as enige kandidaat ’n gemiddelde persentasie van 80% behaal, sal hy hulle finansieel beloon en die leerder sal ’n bedrag van R30 000 vir tersiêre studie ontvang.

Twee leerders het verlede Donderdag onderskeidelik R30 000 en R35 000 ontvang.

Simone Beyers was nie teenwoordig nie, maar haar ma, Joan, het die R35 000 namens haar ontvang. Simone was die 2018-top-kandidaat, maar die finansiële bydrae sal haar help met haar huidige verpleegkundestudie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Laurenzio Cupido het R30 000 ontvang. Hy is tans besig met sy eerste jaar in B Ed by UWK waar hy in tale en wiskunde wil spesialiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.